Soweto nie al wat nou tel
2010-05-25 06:46
In-diepte Verslae
Die Western Force het die Lions tydens hul Super-rugbywedstryd by die NIB-stadion in Perth geklop.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Pretoria – Die Bulls weet nou die Orlando-stadion is ’n bondgenoot, maar glo steeds dat interne motivering die Super14-eindstryd teen die Stormers vir hulle sal wen.
Só meen die Bulls-afrigter, Frans Ludeke, oor die voordeel wat die Bulls het omdat hulle reeds in dié ikoniese stadion
in Soweto kon speel, terwyl die Stormers se rugbyspelers eers Vrydag die eerste keer hul oë daar sal wys.
“Dit was ’n ongelooflike ondervinding en ons weet beslis watter energie daar opgewek kan word.
Ons het gesien hoe ’n goeie begin dit vir ons moontlik gemaak het om momentum op te bou,” het Ludeke gesê.
Hy meen egter dat dit bloot bykomende faktore is en slegs die Bulls kan help as hulle sielkundig reg ingestel is vir dié grote.
“Die stadion is ’n eksterne faktor en ons sluit juis sulke goed uit in ons voorbereiding.
“Ons kan slegs bestuur wat ons kan beheer en daarom kom ons motivering van binne.”
Ludeke is nie gretig om sy span se lopie van verlede seisoen met dié een in 2010 te vergelyk nie.
Tóé het die Bulls die Crusaders getroef en daarna die Chiefs verwoes.
“Ons kan nie die seisoene vergelyk nie.
“Al wat dieselfde was, is dat ons toe ook onsself in ’n posisie wou plaas om die kompetisie te wen.
“Ons is nou weer dáár en is gretig om die beste van ons kans te maak.
“Dié seisoen is egter anders as verlede jaar. Hy het ander oomblikke gehad, die chemie van die seisoen is anders en die reëls is anders.”
Ludeke meen die beste twee spanne in die reeks speel wel in die eindstryd.
“Dit is amper nie belangrik dat albei Suid-Afrikaanse spanne is nie, wel dat die beste twee tot die einde staande gebly het.
“Die feit dat daar nou ’n plaaslike geur is, maak dit opwindend, maar verander niks aan ons voorbereiding nie.
“Saterdag is ’n nuwe teenstander met nuwe uitdagings wat nuwe aanpassings en nuwe taktiek gaan verg.”
Ludeke het ook nie geskroom om die heuningkwas in te lê vir die gewese Bulls-vleuel Bryan Habana nie.
Habana het twee weke gelede twee keer teen die Bulls gedruk toe die spanne in Kaapstad kragte gemeet het, maar kry die eerste keer met die ware Jakob te doen as hulle mekaar Saterdag weer in die oë kyk.
“Ons het baie respek vir Bryan. Ek was bevoorreg om hom ’n jaar by die Leeus en twee jaar by die Bulls te kon afrig. Ons almal weet wat hy kan doen, want hy is ’n spesiale speler.
“Hy is egter eerstens ’n spanman en ek dink nie hy sal daarvan hou dat daar ’n groot ophef van hom gemaak word nie.
“Ons speel ook teen die Stormers, ’n span wat die reg verdien het om in die eindstryd te wees.”
Ludeke glo hulle sal die besoekers se goeie verdedigingslyne kan deurpriem.
“Die Stormers slaag met hul duikslae en kry dit reg om nie te veel spelers by die afbreekpunte te hê nie.
“Maar hul goeie rekord gaan nie Saterdag iets beteken nie. Al wat dan saak maak, is die hoeveelheid duikslae wat jy in daardie 80 minute maak.”
– Sport24