Slotmaats gaan mekaar opdreun op Nuweland
2011-04-28 09:53
In-diepte Verslae
Die Western Force het 'n bonuspunt gekry nadat hulle die Lions tydens hul Super-rugbywedstryd by die NIB-stadion in Perth geklop het.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Kaapstad - Hulle was enkele seisoene gelede nog slotmaats, maar Saterdag op Nuweland pak Andries Bekker en Ross Skeate mekaar as teenstanders.
Skeate, ’n voormalige kaptein van die Westelike Provinsie, gaan na verwagting Donderdag in die Sharks se beginspan ingesluit word vir Saterdag se Super Rugby-wedstryd teen die Stormers.
“Ek dink nie soseer dis ’n kwessie van ’n tweestryd nie, maar vir albei spanne nóg ’n wedstryd wat hulle graag wil wen. Ek sien daarna uit om weer my ou maats te sien,” het Skeate Woensdag gesê.
“Dit gebeur maar in die beroepsera dat jy dikwels teen jou vriende speel. Andries is tans die beste nr. 5-slot in Suid-Afrika.”
Bekker en Skeate sal vir albei spanne leiding in die lynstane moet gee en hul kennis van mekaar se spel kan ’n interessante dinamika in die vaste fasette tot gevolg hê.
“Ons het self vroeër in ons loopbane gehoop ons kan as ’n slotpaar ontwikkel, maar ons afrigters het nie dieselfde oor die saak gevoel nie. Ek het ook sedertdien een of twee beserings gehad wat my vordering gekortwiek het,” het Skeate bygevoeg.
Skeate het einde 2008 koers gekies na die Franse klubspan Toulon en verlede jaar na Suid-Afrika teruggekeer om die Haaie se aanslag in die Curriebeker-reeks stukrag te gee.
’n Ernstige liesbesering deur die loop van die Curriebeker-reeks en ’n gebreekte vinger in die voorseisoen vanjaar het egter sy geleenthede beperk.
Volgens Skeate het die Stormers ’n “uitstekende lynstaan”. Die Stormers het die vorige kragmeting tussen dié spanne vroeër vandeesmaand met 16-6 in Durban gewen.
Skeate het voorts gesê: “Ons het in daardie wedstryd benede ons potensiaal gespeel. Die span was selfs nie tevrede met verlede naweek se vertoning teen die Hurricanes nie.”
Die Sharks is nou net drie ligapunte agter die Stormers.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24