Slot en Sias laat veral die oë rek
2010-02-09 07:23
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Jóhann Thormählen
Bloemfontein - Naka Drotské, breier van die Cheetahs, het gister ’n paar hase uit sy hoed getrek in ’n poging om die Bulls Vrydag hier in hul Super14-rugbykragmeting te klop.
Die Cheetahs sal die verdedigende kampioen in hul eerste wedstryd met 7 Super14-groentjies in hul 22-tal aandurf. Dié nuwe bloed is dalk net wat die streekspan nodig het om die reeks op ’n wennoot te begin.
Riaan Viljoen (heelagter), Lionel Mapoe (regtervleuel) en Ashley Johnson (agtsteman) sal hul buiging in die beginspan maak, terwyl Ryno Barnes (haker), Coenie Oosthuizen (stut), Walti Vermeulen (slot) en Sias Ebersohn (losskakel) die eerste keer vanaf die plaasvervangersbank kan kans kry.
Verder sal ondersteuners ’n sug van verligting slaak nadat Naas Olivier (losskakel) gister ’n fiksheidstoets geslaag en as generaal sal diens doen.
Volgens Drotské is Olivier, wat dalk die stryd weens ’n kniebesering sou misloop, se beskikbaarheid ’n groot hupstoot.
“Hy het in die Curriebeker gewys hy is die nommereen-losskakel in die streek en is veral vir ons belangrik wat strafskoppe betref,” sê hy.
Viljoen is in die laaste vesting bo Hennie Daniller gekies en sal agterlangs bestendigheid onder die Bulls se lugaanvalle verskaf.
Die Springbok kan verder met sy skopvoet ook baie beteken. Hy kan nie net reuse-skepdoele behaal nie, maar sal ook langafstand-strafskoppe behartig.
Tewis de Bruyn is volgens Drotské vanweë sy ervaring en skopvermoë bo Sarel Pretorius as nommer nege verkies.
Johnson is vanweë die Bulls se skoptaktiek bo Frans Viljoen (plaasvervanger) ingesluit.
“Ashley is bietjie beter onder die hoë bal as Frans. Frans is baie fisiek en sy impak in die tweede helfte sal ’n groot rol speel,” sê Drotské.
Dis veral die insluiting van Vermeulen en Ebersohn wat opspraak wek. Vermeulen is volgens die breier oor sy lynstaanvermoë bo slotte soos Izak van der Westhuizen en Rudi Mathee gekies.
“Ons speel teen Victor Matfield. ’n Ou moet dalk twee lynstaan-slotte op die veld kry en Walti is baie goed in die lynstane,” sê Drotské.
Vanjaar word deur baie as Ebersohn se jaar beskou en hy het so beïndruk dat hy bo Louis Strydom as Olivier se adjudant gekies is.
Drotské sê ’n ekstra losskakel is as voorkoming gekies omdat Olivier eers die week fiks verklaar is. “Sias het goed gedoen in die voorseisoen, maar Naas het min gespeel en sal waarskynlik nie 80 minute kan speel nie.”
Die Cheetah-span is: Riaan Viljoen, Lionel Mapoe, Corné Uys, Meyer Bosman, Jongi Nokwe, Naas Olivier, Tewis de Bruyn, Ashley Johnson, Juan Smith (k), Heinrich Brüssow, David de Villiers, Nico Breedt, WP Nel, Adriaan Strauss, Wian du Preez.
Plaasvervangers: Ryno Barnes, Coenie Oosthuizen, Walti Vermeulen, Frans Viljoen, Sarel Pretorius, Sias Ebersohn, Danwel Demas.
- Die Burger