Skrumskakel: 'Gee my net speelkans'
2011-02-01 09:43
In-diepte Verslae
Allister Coetzee, wat uit verskeie oorde gekritiseer is oor Jebb Sinclair se insluiting, het sy soektog na 'n oorsese losvoorspeler laat vaar.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Kaapstad - Gaan die Westelike Provinsie dit berou dat hy nie harder baklei het om Conrad Hoffmann in die Kaap te hou nie?
Hierdie vraag kan vandeesweek al beantwoord word wanneer dié talentvolle jong skrumskakel vir die Sharks in die Neo Africa-rugbyreeks hier op Nuweland speel.
Hoffmann is op die plaasvervangersbank vir vanaand se wedstryd teen die Lions en sal moontlik Saterdag teen die Stormers in die laaste wedstryd in die reeks in aksie wees. Volgens hom is hy slegs daarop uit om sy beste vir die Sharks te lewer en gaan dit nie vir hom daaroor om ’n punt aan sy vorige provinsie te bewys nie.
“Dit gaan nie oor my nie. Ek sal net konsentreer op wat ek moet doen,” het Hoffmann Maandag aan Sport24 gesê.
“Dit sal beslis vreemd voel om téén die Stormers op Nuweland te speel. Dis ouens saam met wie ek gespeel en geoefen het.
“Ek was van o.16-vlak in die WP se strukture. ”Sy besluit om die Moederstad vir Durban te verruil, het verlede jaar ’n interne bekgeveg oor die bestuur van jong spelers in die WP ontketen. “Dit was uiteraard ’n moeilike besluit om vir die Sharks te teken, want my familie, vriende en gemaksone is in die Kaap,” het Hoffmann gesê.
“Dit het bloot daaroor gegaan om ’n geleentheid te kry. Dit was ter wille van my toekoms en sodat ek as speler kon ontwikkel.
”Sy loopbaan het by die WP gestagneer. Hoewel hy baie met beserings gesukkel het, het die WP ook besluit om eerder die pad vorentoe met Dewaldt Duvenage en Ricky Januarie as senior skrumskakels te stap.
Daar is ook etlike belowende jong skrumskakels, soos Louis Schreuder, Nic Groom en Ricky Schroeder, wat deur die WP se junior strukture kom. Tog sal baie mense na die skrumskakels in die Sharks se groep kyk en kopskud oor hoe dit gebeur het dat Charl McLeod en Hoffmann nou hul potjie in Durban krap.
Hoffmann besef hy het ’n groot taak as hy McLeod uit die kussings wil lig. “Die mededinging is sterk, maar ons kom goed oor die weg. Charl het net van die WP af geskuif toe ek as jong speler deurgekom het.” McLeod het einde verlede jaar ’n Springbok geword nadat hy in die Curriebeker-reeks uitgeblink het. Die kans is dus goed dat Hoffmann vir eers in Durban met ’n plek op die plaasvervangersbank tevrede moet wees.
“Soos by enige unie is daar geen waarborg dat jy sal speel nie, maar ek sal darem ’n kans kry. Ek glo dit was die regte besluit en geniet dit baie in terme van my ontwikkeling,” het Hoffmann gesê. Hy sal hoofsaaklik as skrumskakel oorweeg word, hoewel hy steeds gevra kan word om as heelagter of losskakel diens te doen as die nood druk.
Sy doelwit vir 2011 klink beskeie, maar dit spruit voort uit sy frustrasie van die onlangse verlede: “Ek wil soveel moontlik speelkans kry. Ek wil net ’n slag speel.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24