Siya dalk ’n Stormer
2011-06-21 10:00
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Kaapstad - Die Suid-Afrikaanse o.20-losvoorspeler Siya Kolisi kan straks deur die Stormers nader getrek word vir aanstaande Saterdag se halfeindstryd op Nuweland in die Super Rugby-reeks.
Kolisi, wat verlede week sy 20ste verjaardag gevier het, is een van die uitblinkers in die Jong Bokkies se veldtog in die Junior Wêreldtoernooi in Italië.
Die Stormers se afrigter, Allister Coetzee, het Maandag gesê hy het die Suid-Afrikaanse kamp oor Kolisi gekontak.
Suid-Afrika en Ierland spook dit Woensdag om die vyfde plek daar uit en ’n versoek om Kolisi eerder maar in watte toe te draai en terug Kaap toe te stuur, sal seker nie onredelik wees nie.
Kolisi was verlede jaar ’n staatmaker in WP se o.19-span en was ook lid van die WP-Rugbyinstituut in Stellenbosch.
Coetzee het wel genoem dat daar ander keuses is om die leemte te vul wat deur Duane Vermeulen se besering gelaat is.
Nick Koster sal Vermeulen in die beginspan vervang, maar die Stormers benodig nóg ’n losvoorspeler vir hul plaasvervangersbank, hoewel Rynhardt Elstadt ook as ’n losvoorspeler oorweeg kan word.
“Ek het nog nie besluit nie, want ek weet nog nie teen wie ons in die halfeindronde gaan speel nie,” het Coetzee gesê.
“Ons het vir Siya en hy was deel van ons aanvanklike groep. Hilton Lobberts vaar ook goed en ’n mens kan selfs na Andries Bekker kyk en dán vir Anton van Zyl inbring.
“Daar is etlike opsies en my keuse sal deur ons teenstander bepaal word.”
Die verlies van Vermeulen is ’n gevoelige slag, maar Coetzee glo Koster sal hom laat geld.“Duane se fisieke benadering, verdediging en kennis van lynstane was waardevol, maar Nick is nie ver agter op daardie gebiede nie.
Ons is baie gelukkig om ’n speler van sy gehalte te hê en hy sal ook ’n nuwe dimensie in die aanval bring.
“Ons sal Duane mis, maar Nick het al baie geleer en was uitstekend in die wedstryde waar hy as plaasvervanger opgestuur is.
Dis vir hom ’n kans om die belangrikste wedstryde in die reeks te begin.”
Coetzee sal teen Vrydag weet of die veelsydige Springbok-stut CJ van der Linde vir aanstaande week se halfeindstryd op Nuweland beskikbaar sal wees.
Van der Linde herstel tans van ’n liesbesering.
“CJ maak goeie vordering en sal weer sterk kan hardloop. As hy nie reg is vir die halfeindronde nie, glo ek hy sal die week daarna fiks genoeg wees om 80 minute te kan speel. Ons sal geen speler wat nie vir 80 minute kan speel vir die halfeind oorweeg nie.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24