Sharks wil klokke stil speel
2011-03-18 07:40
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Johannesburg - Daar word gesê die derde week van ’n oorsese Super Rugby-toer is altyd die moeilikste.
Juis daarom sal die Sharks Vrydagoggend moet ligloop om nie teen die Chiefs in Hamilton in die yslike slagyster gevang te word nie.
Draf John Smit se span op die veld met die een voet op die vliegtuig terug Suid-Afrika toe, kan sy onoorwonne vertoningslys aan skerwe spat in die land van die Mooloo-manne.
In die Waikato-omgewing, waar die Chiefs gesetel is, wei die Jersey-koeie met klokke om hul nekke – en daarom het dit by hul rugby-wedstryde ’n jarelange tradisie geword dat klokke gelui word om hul span aan te moedig en erkenning te gee wanneer hulle punte aangeteken het.
Die Jersey-koei, Mooloo, het oor baie jare dié geweste se gelukbringer geword.
Die Sharks moet dus vanoggend toesien dat die klokke geluidloos gaan wees.
Vir ’n span wat nog twee seisoene gelede in die eindstryd van die Super14-reeks was, was die Chiefs daarna soos ’n ballon wat afgeblaas het.
Hulle het sedert 2009 nog net een tuiswedstryd, twee weke gelede teen die Melbourne Rebels, gewen en dit is skynbaar alles behalwe ’n voordeel vir hulle om by die huis te speel.
Hulle is ook laaste op die Nieu-Seelandse puntelys, met net een sege uit vier wedstryde.
John Plumtree, die Sharks-afrigter, het sy spelers gewaarsku dat hulle met ’n desperate span te doen gaan kry.
Dit maak van die Chiefs baie gevaarlike teenstanders.
Met die uitsondering van hul heelagter, Tim Nanai-Williams, is al hul agterspelers reeds gevestigde All Blacks.
Die opwindende senter Richard Kahui keer terug ná ’n skouerbesering wat hom ses maande uit aksie gehou het, terwyl die vleuels, Lelia Masaga en Sitiveni Sivivatu, nie aanwysings nodig het vir die pad doellyn toe nie.
Die Sharks sal gefokus moet wees en nie met muisneste rondloop nie oor die vlug na Suid-Afrika en aanstaande naweek se wedstryd in Londen teen die Crusaders.
Die verdediging sal veel beter as teen die Rebels moet wees, terwyl die skitterende agttal weer die grondslag sal moet lê vir ’n sege.
Die lokaas om die eerste SA span te word wat ’n Australasiese toer onoorwonne afsluit, behoort genoeg motivering vir die Sharks te wees om alles uit te haal in hierdie een.
* Die spanne is:
Chiefs: Tim Nanai-Williams, Lelia Masaga, Richard Kahui, Tana Umaga, Sitiveni Sivivatu, Stephen Donald, Brendon Leonard, Liam Messam (k), Tanerau Latimer, Scott Waldrom, Isaac Ross, Craig Clarke, Nathan White, Hika Elliot, Ben May. PLAASVERVANGERS: Aled de Malmanche, Sona Taumalolo, Romana Graham, Fritz Lee, Taniela Moa, Mike Delany, Dwayne Sweeney.
Sharks: Louis Ludik, Odwa Ndungane, Stefan Terblanche, Meyer Bosman, Lwazi Mvovo, Patrick Lambie, Charl McLeod, Ryan Kankowski, Willem Alberts, Keegan Daniel, Alistair Hargreaves, Steven Sykes, Jannie du Plessis, Bismarck du Plessis, John Smit (k). PLAASVERVANGERS: Craig Burden, Beast Mtawarira, Anton Bresler, Jacques Botes, Conrad Hoffmann, Jacques-Louis Potgieter, Adrian Jacobs.
Skeidsregter: Garratt Williamson (NS)
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24