'Sharks, onthou 1995 en Lomu'
2011-06-23 09:03
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Kimberley - As die Sharks Saterdag in Nelson die Crusaders-senter Sonny Bill Williams wil neutraliseer, sal hulle ’n blaadjie uit die seëvierende Springbokspan van 1995 se boekie moet skeur.
Daardie Bok-span het sy Wêreldbeker grootliks danksy goeie verdediging verower – en die feit dat hy in die proses die gevreesde All Black-vleuel Jonah Lomu geneutraliseer het.
Williams en sy sentermaat Robbie Fruean staan Saterdag vierkant in die Sharks se pad in hul strewe om tot die halfeindronde van die Super Rugbyreeks deur te dring. Die Sharks sal juis nie goeie herinneringe aan Twickenham hê nie waar die einste Williams hul verdediging vroeër vanjaar aan flarde gehardloop het.
“Hulle (die Sharks) sal dieselfde met Sonny Bill moet doen as wat die Bokke destyds met Jonah Lomu gedoen het. Lomu was sterk op sy voete, maar die Bokke het hom geneutraliseer. Williams is ook sterk op sy voete en die Sharks sal hom soveel as moontlik van besit moet ontsê en terselfdertyd goed moet lak,” het die oud Springbok- en Sharks-slot Mark Andrews Woensdag gesê.
Williams het hom vanjaar as die Crusaders se groot aanvalswapen gevestig en die aandag sal in die kragmeting deurgaans op hom en Fruean – en die Sharks-senterpaar van Stefan Terblanche en Meyer Bosman – wees.
“Die tweestryd tussen die senterpare sal ’n baie goeie uitdaging wees. Ons weet Sonny Bill is sterk op sy voete en dat hy in die duikslag van die bal ontslae probeer raak.
Die Sharks-agterlyn se verdediging sal moet verhinder dat hy daardie halwe gaping kry,” het die oud-Springbok en Leeus-senter Hennie le Roux bygevoeg.
Fruean het Woensdag sy lippe afgelek vir sy stryd teen Terblanche.
Die Sharks het verlede naweek met ’n uitmergelende sege oor die Bulls hul plek in die uitklopfase bespreek. Die min ruskans, tesame met die lang pad Nieu-Seeland toe is een van die groot uitdagings wat die span die hoof moet bied.
“Reis sal ’n faktor wees. Die Sharks het ’n harde wedstryd teen die Bulls agter die rug en die hersteltyd is min voordat hulle teen die Crusaders opdraf. Maar hulle het die skietgoed om ’n sege te behaal.
Geen SA span het nog in die uitklopfase in Nieu-Seeland gewen nie, maar net die media en joernaliste steur hulle aan statistieke, spelers nie,” het Andrews gesê.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24