Sharks in Slag van Trafalgar
2011-06-25 07:15
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Johannesburg – Het die Sharks dít wat nodig is om tot die halfeindronde van die Super Rugbyreeks deur te dring?
Dié vraag word Saterdagoggend (SA tyd) op Trafalgar Park in Nelson beantwoord wanneer Stefan Terblanche en sy span die Crusaders aanvat.
Dit is een ding om die Bulls op ’n sonnige wintersmiddag op Loftus Versfeld te klop met ’n groot deel van die skare wat aan jou kant is.
Dit is iets heeltemal anders om die Crusaders op ’n nat, swaar veld in yskoue toestande te klop, met ’n oorheersend vyandige skare teen jou in die vreemde toestande.
John Plumtree, afrigter van die Sharks, het verlede week ’n fyn uitgewerkte plan gehad om die Bulls in hul eie kraal te stuit. Hy sal weer een hê hoe om die Crusaders-aanslag te bowe te kom.
Of dit sal uitwerk soos op Loftus is ’n ander vraag.
Jy hoef nie ’n ruimtevaart-deskundige te wees om te besef daardie plan behels om Dan Carter, Sonny Bill Williams en Robbie Fruean in die middelveld vas te ketting nie.
Om dit te kan regkry sal die stryd voorlangs gewen moet word.
In die eerste plek sal die Sharks se vaste fasette onberispelik moet wees. Hulle sal nie net beter moet skrum as in die sege oor die Bulls nie, maar veral ook dramaties moet verbeter op hoe hulle vroeër in die seisoen teen die Crusaders op Twickenham geskrum het.
In daardie wedstryd het die Crusaders hulle opgefrommel in die skrums en gebeur dit weer, sal die nag toesak op die Sharks.
“Jy moet maar besef jy gaan nie vir 80 minute oorheers teen ’n span soos die Crusaders nie, maar soos teen die Bulls, sal ons goed moet begin en dit so lank moontlik volhou.
“Ons kan nie bekostig om konsentrasie te verloor nie, want dan gaan hulle ons straf,” het Plumtree uit Nieu-Seeland gesê.
“Dit gaan belangrik wees om vroeg in die wedstryd selfvertroue te kry en te glo ons kan hierdie een deurtrek. As dit nat en moeilike toestande is soos wat ons verwag, sal dit daaroor gaan om die wedstryd in hulle helfte te speel en dan goed te verdedig.
“Hulle het ’n skakelpaar van wêreldgehalte en ook twee uitstaande senters. In die wedstryd teen hulle in Londen is daardie ouens heeltemal te veel beweegruimte gegun en kon hulle voor rustyd al vier drieë druk.
“Dié keer kan ons beslis nie so iets toelaat nie,” het Plumtree gesê.
So skitterend soos Williams op die aanval is, is daar vrae oor sy verdediging. En dit kan die Sharks baat om met hul sterk baldraers soos Willem Alberts, Jean Deysel en Bismarck du Plessis in sy kanaal aan te val en ook met mening op Carter en Fruean af te hardloop.
Soos teen die Bulls moet die afbreekpunte aggressief aangeval word en moet daar oor die bal gedryf word. En Frederic Michalak en Patrick Lambie se taktiese skopwerk moet die Crusaders laat omdraai.
Verder sal hulle kalm onder druk moet bly en elke geleentheid wat hulle kry in punte omskep.
Vinnige feite
Die Crusaders het nog nooit in ’n eindstryd of halfeindstryd van die Super-reeks op hul tuisveld verloor nie. Hulle het 16 van hul 21 uitspeelwedstryde gewen – ’n wensyfer van 76%.
Die Sharks kon nog nooit die Crusaders in ’n wegwedstryd in die Super-reeks verslaan nie. Hul 3 seges uit 17 wedstryde teen die Crusaders is almal in Durban behaal.
Sharks
Patrick Lambie, JP Pietersen, Stefan Terblanche (k), Meyer Bosman, Lwazi Mvovo, Frederic Michalak, Charl McLeod, Willem Alberts, Keegan Daniel, Jean Deysel, Alistair Hargreaves, Gerhard Mostert, Jannie du Plessis, Bismarck du Plessis, Beast Mtawarira.
Plaasvervangers: John Smit, Eugene van Staden, Ross Skeate, Ryan Kankowski, Jacques Botes, Adrian Jacobs, Louis Ludik.
Crusaders
Tom Marshall, Sean Maitland, Robbie Fruean, Sonny Bill Williams, Zac Guildford, Dan Carter, Andy Ellis, Kieran Read (k), Matt Todd, Sam Whitelock, George Whitelock, Brad Thorn, Owen Franks, Corey Flynn,
Wyatt Crockett.
Plaasvervangers: Quintin MacDonald, Ben Franks, Luke Romano, Jonathan Poff, Kahn Fotuali’i, Matt Berquist, Ryan Crotty.
Beamptes
Skeidsregter: Bryce Lawrence (Nieu-Seeland).
Assistent-skeidsregters:Keith Brown (Nieu-Seeland); Vinny Munro (Nieu-Seeland).
TV-skeidsregter: Garrat Williamson (Nieu-Seeland).
Afskop: 09:35 (SA tyd).
Wie pak wie?
As die Crusaders vandag wen, speel hulle in Kaapstad teen die Stormers in die halfeindronde en die Reds pak die Blues in Brisbane.
As die Sharks wen, speel hulle teen die Reds in Brisbane en die Blues vlieg Kaapstad toe.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg