Sharks gaan fokus op Bulls-skakels
2011-05-19 08:41
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Johannesburg - Die Sharks glo hulle weet presies wat om Saterdagaand van die Bulls te verwag in hul Super Rugby-wedstryd in Durban.
“Hulle het ’n patroon wat vir hulle werk en ek kan nie sien dat hulle daarvan sal afwyk nie,” sê John Plumtree, die afrigter van die Durbaniete.
“Fourie du Preez (skrumskakel) en Morné Steyn (losskakel) is hul twee sleutelspelers wat sake moet dikteer.
“In die Bulls se opset is dié twee van die grootste belang met hul uitstekende taktiese skopwerk en die wyse waarop hulle sake beheer en toesien dat die ouens in die regte situasies die bal kry om mee te dryf.
“Hulle is die spil waarom die span draai,” sê Plumtree.
“Hulle is ook ervare en bestendige spelers en jy weet reeds vooraf hulle sal ‘groot’ wedstryde hê.
“Die onus is op ons om druk op hulle te plaas sodat hulle gedwing word om iets anders te doen as waaraan hulle gewoond is en wat altyd vir hulle werk.
“Ek wil hê ons moet hulle uit daardie gemaksone van hulle neem en hul patroon sodoende probeer ontwrig,” sê hy.
In verlede jaar se Curriebeker-halfeindstryd het die Sharks die Bulls geneutraliseer met inklimspel vanuit die staanspoor en deur besit te beheer.
Die besoekers is nooit daardie dag die kans gegee om enige ritme te kry nie en hul stewige agttal en skakelpaar (Steyn en Francois Hougaard) was vir die grootste deel van die wedstryd nie veel meer as toeskouers nie.
Plumtree wil Saterdagaand iets soortgelyks sien gebeur.
Dié Kiwi is ook van mening dat al hoe meer opskuddings in die laaste vyf weke van die toernooi gesien gaan word.
“Dié reeks is baie onvoorspelbaar en veral noudat uitputting en beserings ’n al hoe groter faktor word, kan enigiets in enige wedstryd gebeur.
“Jy kan beslis nie met sekerheid vooraf sê wie enige wedstryd gaan wen nie.
“Al wat die bestuurspanne nou kan doen, is om die ouens so goed moontlik voor te berei en dan maar in die wedstryd duim vas te hou alles werk uit soos wat dit vooraf beplan is.
“En dat daar ook nie nuwe beserings opduik nie,” het Plumtree gesê.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24