Sharks Twickenham toe sonder Lambie
2011-03-23 07:32
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Durban - Die Sharks vlieg Donderdagaand Londen toe sonder sy Springbok-losskakel Patrick Lambie.
Dié inspirerende 20-jarige se gebreekte linker-middelvinger word vanoggend (Woensdag) geopereer.
Hy sal minstens drie weke uit aksie wees en dalk eers sy terugkeer oor die Paasnaweek teen die Hurricanes kan maak.
Volgens Ewoudt van der Linde, die Sharks se spandokter, het ’n beentjie binne die middelvinger afgebreek en het dit in die vinger rondbeweeg.
Dit het die gevolg gehad dat die vinger onstabiel is en dit sal in die operasie met ’n stukkie draad geheg word.
Met dié slegte nuus vir die Sharks sal die mense wat al lippe afgelek het vir die stryd tussen dié jong kroonprins en die koning van losskakels, Dan Carter van die Crusaders, nou droëbek wees.
Lambie het die besering in verlede week se nederlaag teen die Chiefs in Hamilton opgedoen, maar hy het steeds die wedstryd voltooi.
Daar was vroeër vandeesweek nog die hoop uitgespreek dat Lambie dalk met ’n beskermende stut om die vinger sou kon speel, maar nadat hy baie ongerief verduur het in Maandag se oefening wanneer hy die bal hanteer het, het daardie hoop vervaag.
Die Sharks was ook nog hoopvol dat hy gereed sou wees om volgende Saterdag teen die Stormers te kon speel, maar die toetse wat die erns van die besering bepaal het, het nou ’n stokkie daarvoor gesteek.
Lambie se afwesigheid bied nou aan ’n gewese agterspeler van die Bulls en Cheetahs, Jacques-Louis Potgieter, die geleentheid om die kollig op hom te laat skyn as Charl McLeod se skakelmaat.
Hy sal ook die stelskopwerk behartig.
JP Pietersen kan op die plaasvervangersbank wees.
Hy het vandeesweek weer begin oefen nadat hy teruggekeer het Suid-Afrika toe ná die eerste toerwedstryd Doer Onder – teen die Force.
Die feit dat Lambie nie Sondag daar gaan wees nie, sal ongetwyfeld ontwrigtend vir die Sharks wees.
Hy is sedert vroeg in die Curriebeker-reeks verlede seisoen ’n instelling in die Sharks se nommertien-trui.
Hy het nie net ’n skitterende kombinasie gevorm met McLeod nie, maar ook met die spelers aan sy buitekant.
Uiteraard kan nie verwag word dat Potgieter sommer vanuit die staanspoor sy skoene met dieselfde effektiwiteit sal vul nie.
Hy sal egter baie gretig wees om hierdie kans in só ’n geskiedkundige kragmeting deeglik aan te gryp en die Sharks-ondersteuners te wys waartoe hy in staat is.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24