Seges val nie in skoot
2011-03-07 08:39
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Johannesburg - Super Rugby-oorwinnings gaan nie sommer net in die Lions se skoot val nie – hulle sal hul vingers stomp moet werk daarvoor.
Die genadelose aard van die reeks het die Lions ná Vrydag se nederlaag teen die Blues steeds met leë hande gelaat.
Dieselfde lot was tot dusver vir die Cheetahs, die Lions se volgende teenstanders, bestem. Maar dit maak geensins van die Cheetahs Saterdag in Bloemfontein maklike teenstanders nie, want in dié reeks is daar nie so iets nie.
“Ons gaan nie beloon word as ons dit nie verdien nie,” het John Mitchell, die Lions se afrigter, ná die nederlaag van 32-41 teen die Blues gesê.
Soos in die nederlae teen die Bulls en die Stormers, kon die Lions die wedstryd gewen het, maar hulle het nie enduit kopgehou nie.
“Ek het uit die staanspoor geweet ek sal geduldig met dié groep spelers moet wees. Ons moet eenvoudig meer professioneel word. Daar is nog baie werk wat voorlê,” het Mitchell gesê. “Ek dink nie daar is iets fout met die intellek binne die span nie – die probleem is emosioneel en ons moet steeds meer in onsself glo. Ons groei nog, want 11 van dié seuns het maar in hul derde Super-wedstryd gespeel.
“Maar die verwagtinge is hoog en ons moet bowenal wedstryde wen.”
Pat Lam, afrigter van die Blues, het nietemin die Lions se lof besing en hy glo hul eerste oorwinning sedert Mei 2009 is om die draai.
“Ek en my spelers het voor die wedstryd, en veral agterna, saamgestem dat hierdie span (die Lions) nog baie spanne gaan klop.” “
Die Lions sal vandag meer weet oor die erns van die harsingskudding wat hul ster-skrumskakel, Jano Vermaak, teen die Blues opgedoen het.
Rory Kockott kan moontlik in Vermaak se plek teen die Cheetahs speel. Op losskakel sal Elton Jantjies hoop dat Mitchell hom nog ’n kans in die beginspan sal gee.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24