Schalk straks teen Bulls
2011-03-01 07:29
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Kaapstad - Schalk Burger se besoek aan ’n spesialis was darem nie katastrofies nie, maar hy is in ’n wedloop teen tyd gewikkel om fiks te wees wanneer die Stormers die Bulls op 19 Maart in die Super Rugbywedstryd op Loftus Versfeld pak.
Die Stormers se kaptein het ’n knieligament in die eerste helfte van Saterdag se wedstryd teen die Lions op Nuweland gerek.
“Schalk sal nie geopereer hoef te word nie. Hy sal twee of drie weke nodig hê om te herstel, afhangend van hoe die besering op behandeling reageer,” het die Stormers se bestuur Maandag laat weet.
Dit is dus ’n uitgemaakte saak dat Burger Saterdag se wedstryd teen die Cheetahs en waarskynlik ook volgende naweek se kragmeting met die Highlanders sal misloop.
Pieter Louw behoort teen die Cheetahs die Kapenaars se nr. 6-trui op Nuweland te dra, met Nick Koster of Siya Kolisi op die plaasvervangersbank.
Die Stormers se afrigter, Allister Coetzee, het ook nog nie besluit oor wie hy as losskakel gaan kies nie. Gary van Aswegen was teen die Lions belowend in sy buiging in Super Rugby, maar Peter Grant se toetrede in die laaste 20 minute het ’n groot rol gespeel om die wedstryd in die Kapenaars se guns te swaai.
Grant het geensins gesukkel om by die tempo van Super Rugby aan te pas nie ná bykans agt maande in Japan.
“Gary is nog baie jonk, maar het sy eerste toets met vlieënde vaandels geslaag,” het Coetzee gesê.
“Ons het baie ervaring in Peter. Ek wil graag sien dat die span momentum bou en het nog altyd daarin geglo om jong spelers op die rug daarvan blootstelling te gee.”
Die Stormers se spelpeil behoort vandeesweek ná die huiwerige begin teen die Lions ’n opwaartse kurwe te toon. Daar moet in gedagte gehou word dat hulle in die eerste week van die toernooi ’n loslootjie gehad het.
Dan het spelers soos die haker Deon Fourie en senter Jaque Fourie laas in verlede jaar se Curriebeker-reeks gespeel. Boonop het etlike jong spelers hul buiging teen die Lions gemaak.
Coetzee was nog nie seker of die Springbok-vleuel Gio Aplon beskikbaar gaan wees nie. Hy het in die oggend se oefensessie saam gehardloop, maar nie die middag geoefen nie.
Die breier is vol vertroue dat sy span se vaste fasette sal verbeter.
Daar is wel gesonde agting vir die Cheetahs, al het hulle reeds die knie voor die Sharks en die Bulls gebuig. Twee van hul senior spelers, Adriaan Strauss en hul kaptein, Juan Smith, is weens beserings langs die kantlyn.
“Die Cheetahs is goed georganiseer en ’n fisieke span. Hulle gaan ons in elke afdeling toets,” het Coetzee gesê.
“Daardie drie van Andries Strauss teen die Bulls was ’n juweel.”
Coetzee het Maandag darem opnuut ook die karakter van sy span geloof. Dit het immers karakter geverg om ’n agterstand teen die Lions uit te wis en die wedstryd te wen.
“Ek is veral beïndruk met die span se sielkundige stoffasie. Ons het verlede jaar byvoorbeeld so ’n rillerstryd teen die Brumbies verloor.”
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24