Schalk leer by Sharks
2011-04-14 09:47
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Kaapstad - Die veteraan-flank Schalk Burger was Woensdag op sy 28ste verjaardag in ’n vrygewige luim toe hy die Lions as ’n “fantastiese span” beskryf het.
Só fantasties dat die Lions hul laaste 11 tuiswedstryde in Super Rugby in Johannesburg op ’n streep verloor het, maar gegewe die Stormers se vertoning teen die Reds is dit seker maar beter om Saterdag met só ’n ingesteldheid na Coca-Colapark op te ruk.
Burger se span het teen die Queenslanders sy eerste wedstryd vanjaar verloor nadat hy met ses seges op ’n streep begin het. En nou moet gekeer word dat daar verder gegly word.
“Elke wedstryd is belangrik, maar veral nadat jy die vorige week swak vertoon het. Dis vir ons baie belangrik om voor volgende week se loslootjie weer op die wenpad te kom,” het Burger gesê.
“Ons het met die Sharks gesien dat hulle ná ’n puik begin ’n insinking beleef het. Ons wil nie dieselfde pad stap nie.”
Gegewe die frustrasie wat die Lions al in die verlede by die Stormers ontketen het, is ’n bietjie oordrewe agting seker nie misplaas nie.
Die Stormers moes in die ooreenstemmende kragmeting in 2008 ’n sege met vier drieë behaal om vir die halfeindronde te kwalifiseer. Hulle het gewen, maar kon slegs drie drieë druk.
Vandeesweek sal die bonuspunt inderdaad net dít wees – ’n bonus. Solank hulle net weer wen.
“Volgende week se loslootjie gaan niks beteken as ons nie dié naweek goed speel nie,” het die Stormers se afrigter, Allister Coetzee, Woensdag gesê.
“Ons móét goed speel en dán kan ons die loslootjie geniet. Dit sal op die regte tyd kom.”
Coetzee het gister vier veranderings gemaak aan die span wat teen die Reds verloor het. Bryan Habana se skouerbesering gaan hom vir dié wedstryd langs die kantlyn hou en dit beteken daar is in die agterste driehoek ’n verandering én ’n posisionele skuif.
Gio Aplon skuif van heelagter na die linkervleuel, met Conrad Jantjes wat die laaste vesting gaan beman.
Jantjes het die afgelope twee naweke vir die Westelike Provinsie se Vodacombeker-span gespeel. Sy skopvoet en ervaring het hom waarskynlik bo die jongeling JJ Engelbrecht in die beginspan gekry.
De Kock Steenkamp kry ook ’n kans op slot omdat Rynhardt Elstadt ’n beenbesering het.
Op vaskopstut kry Brok Harris ’n welverdiende blaaskans en druk die Stormers vandeesweek op die Springbok-stut CJ van der Linde se nommer.
“Brok het al geweldig baie gespeel en waarom nie die skuif maak as jy ’n Springbok op jou plaasvervangersbank het nie? CJ het baie goed gespeel wanneer ons hom as vaskopstut opgestuur het en dis belangrik dat hy ook begin,” het Coetzee gesê.
Die Stormers beplan om die Lions veral in die vaste fasette die stryd aan te sê. Verlede week het die Lions slegs 9 van hul 14 lynstane gewen en daarom kan Andries Bekker vandeesweek ’n troef vir die Stormers wees.
Boonop wil Coetzee hê sy span moet weer sterk begin en deurentyd goeie dissipline handhaaf.
“Ons het in al ons wedstryde behalwe verlede week s’n goed begin.
“Ons het baie druk in die vaste fasette uitgeoefen.
“Dis moeilik vir enige span om te funksioneer as hy nie goeie besit kry nie.”
Die Stormers se span is:
Conrad Jantjes, Danie Poolman, Jaque Fourie, Juan de Jongh, Gio Aplon, Peter Grant, Dewaldt Duvenage, Duane Vermeulen, Francois Louw, Schalk Burger (k), Andries Bekker, De Kock Steenkamp, CJ van der Linde, Deon Fourie, Wicus Blaauw. PLAASVERVANGERS: Ethienne Reynecke, Brok Harris, Anton van Zyl, Nick Koster, Ricky Januarie, Gary van Aswegen, Johann Sadie.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24