Saru streef na ’n regverdige Super14
2010-01-29 19:49
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Marco Botha
Kaapstad - Konsekwentheid en regverdigheid. Dít is wat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) nastreef met die aanstelling van die oudblaser Freek Burger as sy enigste dissiplinêre uitwysbeampte in vanjaar se Super14-reeks.
Christo Ferreira, Saru se bestuurder van regsaangeleenthede, het gister aan Sport24 bevestig dat Nieu-Seeland en Australië ook op hierdie inisiatief ingekoop het.
Hulle het voorts Steve Hinds en Scott Nowland onderskeidelik as Burger se eweknieë aangestel.
Albei het al in die Drienasies-reeks uitwysings behartig, terwyl Burger een van Suid-Afrika se suksesvolste toetsblasers en later hoof van skeidsregters was.
“Ons het verlede jaar vier uitwysbeamptes gehad. Die een het byvoorbeeld in nege wedstryde geen uitwysings gemaak nie, terwyl ’n ander 11 gemaak het. Ter wille van konsekwentheid het ons dit goed gedink om net een beampte in hierdie hoedanigheid te hê,” het Ferreira verduidelik.
Elke uitwysbeampte sal ’n kamer, toegerus met al die nodige tegnologie, tot sy beskikking hê. Daar sal hulle van die nodige kamerahoeke, klankgrepe en dergelike voorsien word.
Dit sal dus nie meer nodig wees vir uitwysbeamptes om fisiek by elke wedstryd te wees nie. Burger sal nietemin assistente by wedstryde hê waar hy nie self teenwoordig is nie, om te help met die insameling van beeldmateriaal by die uitsaaier.
Die uitwystydperk vir die Super14-reeks is ook van 12 uur tot 24 uur verleng, en spelers sal verhoor word waar hul volgende wedstryd ook al plaasvind. Dit is om toerreëlings te vergemaklik, het Ferreira gesê.
Die beamptes sal mekaar op Saterdae en Sondae oor voorvalle raadpleeg, maar het geen seggenskap oor die wedstryde en voorvalle wat buite hul eie land plaasvind nie.
Burger het vanjaar 33 wedstryde op sy skinkbord, maar sal elke ander Super14-kragmeting volg.
“Dit sal goed wees om met die ander manne te gesels. ’n Ou moet darem op dieselfde golflengte bly,” het Burger oor sy nuwe taak gesê.
Plaaslik sal hierdie verwikkeling soos manna uit die hemel ontvang word. Dat Suid-Afrikaanse spelers dikwels aan die kortste ent van sulke dissiplinêre prosesse trek, is ’n gesprek wat al te gereeld hier gevoer word.
Die omstrede uitwysing van die Springbok-slot Bakkies Botha ná die tweede toets verlede jaar teen die Britse en Ierse Leeus, dien as voorbeeld.
Botha het die stut Adam Jones van ’n losskrum vervreem, maar is later vir roekelose spel uitgewys.
Matt Giteau van Australië het Nuweland kort daarna met ’n glimlag verlaat, ondanks die laat, hoë en gevaarlike duikslag wat hy in daardie toets op die Springbok-skrumskakel, Fourie du Preez, uitgevoer het.
Ook die agtsteman van die Chiefs, Sione Lauaki, het skotvry daarvan afgekom nadat hy die Springbok-vleuel Bryan¬ Habana verlede jaar hoog geduik het. Die uitwysbeampte het die voorval te laat gerapporteer.
“Ek glo hierdie is ’n stap in die regte rigting. Ons is professioneel en moet daarom objektief, regverdig en onbeïnvloedbaar optree,” het Burger oor die nuwe stelsel gesê.
-Die Burger