Rooi gety te sterk
2011-07-10 10:00
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Johannesburg - Dit was 100 000 km se dramatiese reise, maar Saterdag in Brisbane het die Crusaders se besielende segetog in die Superstryd tot ’n einde gekom toe die Reds hulle in die tweede helfte van die veld gespeel het om met 18-13 te wen.
Die besoekers was sweerlik die sentimentele gunstelinge, maar die skeidsregter, die Kiwi Bryce Lawrence, het in veral die eerste helfte soveel klei getrap by die afbreekpunt, meestal ten koste van die Reds, dat neutrale kykers later vir die Aussies sou begin duim vashou het.
Dit het ammunisie verskaf aan kritici wat meen die Crusaders en die All Blacks se losvoorspelers is kroonwild in die Suidelike Halfrond – as ’n Brit Saterdag die fluitjie gevat het, het McCaw minstens drie strafskoppe en ’n geel kaart gekry.
Die Crusaders se skrumwerk was weer eens eksieperfeksie en die Reds kon eers nie veel met die bal gedoen kry nie. By die breekpunt het die besoekers straffeloos ’n ander sport as rugby gespeel en agter die skrum moes die agtsteman, Radike Samo, en skrumskakel, Will Genia bontstaan met die morsige balle. Genia was oudergewoonte kalmte in stewels en kon meestal daarin slaag om die beste van ’n slegte saak te maak en die Crusaders kon seker effens suur voel dat hulle rustyd met net 7-6 voorgeloop het.
Samo het net ná die draaislag uitstekend gedoen deur ’n kragdrie van Brad Thorn te verhoed en die gety het begin draai in die rigting van die Reds.
Hoewel albei spanne die wydte van die veld gebruik het, was deurkomkans min en al drie drieë wat in dié ongenaakbare eindstryd gedruk is, was die gevolg van skitterende stukkies individuele spel.
Carter s’n in die eerste helfte het gekom ná hy sy eie fyn rolskoppie opgevolg het, maar dis uitgekanselleer nadat Genia en Quade Cooper vir Digby Ioane op ’n dodelike dartellopie weggestuur het.
En toe Genia se doodskoot: ná Lawrence ’n oënskynlik heel wettige drie deur die Reds-slot Rob Simmons van die hand gewys het, het die toor-skrumskakel op sy eie tientreëlyn daarteen besluit om te skop en die titel met een van die toernooi se beste drieë laat tuiste kry.
Dis vier jaar nadat die Bulls hierdie span 92-3 op Loftus geklop het om ’n tuis-halfeindstryd te bewimpel en dat hulle dié keer koning kraai is ’n geweldige testament vir hul breier, Ewen McKenzie, en die jong spelers van Queensland.
Flambojant, dié Reds? Vir seker. ’n Bietjie sag? Aikôna. Hulle het die beker om dit te bewys.
- Sport24
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.