Robert Ebersohn moet sy held keer
2012-03-30 09:03
In-diepte Verslae
Die Rebels het wéér vir 'n skok gesorg toe hulle die Waratahs vir die eerste keer in die geskiedenis van die Super-reeks geklop het.
Die Cheetahs se afrigter, Naka Drotské, het die versoeking weerstaan om Heinrich Brüssow in die 15-tal te kies vir die stryd teen die Higlanders.
Bloemfontein – As Robert Ebersohn in Kiwi-land grootgeword het, sou hy waarskynlik sy buitesenter-held, Conrad Smith, as aanbieder op die kassie dopgehou het.
Maar of hy nou die Hurricanes-kaptein op skool bewonder het of nie, Ebersohn sal Saterdag meer as net vierkantige oë op die giftige All Black-ster moet hê.
Die Blitsbok kom die eerste keer teen Smith in die Cheetahs se Super-rugbywedstryd in Wellington te staan en meen dis ’n kans om hom teen nog ’n agterlyn-planmaker te meet.
Volgens Ebersohn geniet hy dit meer om vanweë fisieke kragmetings Super-rugby teen Nieu-Seelandse spanne te speel.
Tog is dit eerder ’n tweestryd met Smith, eerder as ’n bul-senter, waarna hy uitsien.
Die 30-jarige Smith het sy All Black-buiging in 2004, toe Ebersohn 15 jaar oud was, gemaak.
Intussen het die gekwalifiseerde prokureur 54 keer vir die Kiwi’s uitgedraf en in 2011 die Wêreldbeker-kroon saam met hulle verower.
Hoewel dié regsgeleerde gewoonlik die praatwerk op die veld doen, is hy ook ’n aanbieder op Small Blacks TV, ’n leefstyl-program vir kinders met ’n rugbyfokus, in Nieu-Seeland.
Dit word deur verskeie All Blacks aangebied.
Die 23-jarige Ebersohn het in 2010 begin Super-rugby speel, maar Smith nog nooit gepak nie.
Die Kiwi was nie in 2010 of 2011 teen die Cheetahs in aksie nie. Hy moes elke keer weens beserings Cheetahs-stryde misloop en het laas in 2009 teen die Suid-Afrikaners uitgedraf.
Ebersohn beskou Smith as ’n beter maatstaf vir sy spel, omdat hulle meer eenders speel.
“Ek sal myself beter teen iemand soos Conrad Smith meet. Ek het hom al van skool af bewonder.
“As ek nie in die reeks teen Robbie Fruean of Conrad speel nie, is dit Richard Kahui of Sonny Bill Williams.
“Maar dis eintlik lekkerder om teen Smith te speel. Hy is ’n meer gereelde internasionale buitesenter.
“Waar Ma’a Nonu die groot ou was as hulle saam speel, was Smith meer die slim ou.
“Nonu sal die bal opvat en Conrad die planne maak.
“Ek sien myself meer as ’n speler soos Smith – die planmaker.
“Conrad vang dalk nie altyd shine nie, maar is baie goed en skep baie drieë,” het Ebersohn gesê.
Smith was hoeka verlede naweek ’n held toe hy in die doodsnikke van sy span se Blues-sege van 26-25 die wendrie gedruk het.
Intussen het die ’Canes-breier, Mark Hammet, vyf veranderinge aan sy beginspan gemaak.
Die stut Tristan Moran en slot James Broadhurst is die eerste keer vanjaar in die beginspan, terwyl die flank Karl Lowe van ’n besering terugkeer. Charlie Ngatai skuif in op binnesenter.
Die agtsteman Victor Vito het Donderdag ’n kuit beseer en word deur Brad Shields vervang.
Die Hurricanes-span is: Andre Taylor, Cory Jane, Conrad Smith (k), Charlie Ngatai, Julian Savea, Beauden Barrett, TJ Perenara, Brad Shields, Karl Lowe, Faifili Levave, Jason Eaton, James Broadhurst, Jeffery Toomaga-Allen, Dane Coles, Tristan Moran. PLAASVERVANGERS: Motu Matu’u, Michael Bent, Mark Reddish, Jack Lam, Chris Eaton, Daniel Kirkpatrick, Jayden Hayward.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24