Rillerstryd wag op Nuweland, sê Loffie
2011-02-25 07:27
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Kaapstad - Die Lions kom Saterdag Nuweland toe in die geloof dat hulle die Stormers op hul tuisveld kan pak gee.
Só voorspel die man met ’n “voet in albei kampe”, Eugene Eloff. Hy brei deesdae die Boland-Kavaliers wat in die Stormers se streek val, maar was so onlangs as 2009 nog die Lions se afrigter in Superrugby.
“Ek dink die Lions sou baie selfvertroue uit daardie tweede helfte teen die Bulls geput het. Die Lions het baie gevaarlik gelyk toe hulle die bal lug gegee het. Hulle gaan met ’n aanslag kom en sal glo dat dié wedstryd gewen kan word,” het Eloff gesê.
Dié breier meen die Stormers moet probeer om die Lions by die vaste fasette onder druk te plaas en nie die bal weggee nie.
“Dit gaan ’n rillerstryd wees en ek glo hy kan enige kant toe swaai. Dis ’n moeilike een om te voorspel. Dis natuurlik belangrik vir die Stormers om hul veldtog met ’n sege te begin.”
Die Stormers se afrigter, Allister Coetzee, moes vandeesweek ’n paar berekende skuiwe met jong spelers maak. Gary van Aswegen (losskakel) en Danie Poolman (regtervleuel) maak albei hul buiging in Super Rugby in die Kapenaars se agterlyn.
Poolman kry sy kans omdat Gio Aplon nog van ’n kniebesering herstel, terwyl Van Aswegen vir eers bo Peter Grant gekies is.
Laasgenoemde het vroeg vandeesweek eers uit Japan teruggekeer.
“Dis noodgedwonge skuiwe en (hulle is) die volgende spelers wat in plek is. Hulle moet êrens begin. Jy het dikwels geen ander keuse nie. Wie weet, miskien word een van daardie jong manne nog ’n Springbok,” het Eloff gesê.
Voorlangs het die Stormers egter berekend hul neus vir ervaring opgetrek om jonger manne kans te gee. Rynhardt Elstadt begin, ondanks Adriaan Fondse en De Kock Steenkamp se teenwoordigheid, op slot, terwyl Frans Malherbe die reserwekrag onder die stutte verskaf.
Malherbe het verlede jaar nog die Westelike Provinsie op o.19-vlak verteenwoordig en is ’n vaskopstut.
Die Stormers se skrumaanslag begin met Brok Harris op vaskop en CJ van der Linde op loskop. Twee ervare loskoppe, Wicus Blaauw en JD Moller, sak môre in die WP se Vodacombeker-span se voorry.
Coetzee het oor sy besluit om Malherbe op die bank te kies, gesê dat die Stormers “die druk aan die vaskopkant enduit wil volhou”.
Die Lions het ’n puik loskopstut in JC Janse van Rensburg en het ook met strategiese plaasvervangers soos Martin Bezuidenhout, Wikus van Heerden en Kevin Buys die druk op die Bulls volgehou en die tempo dikteer.
Die vraag of die Lions se vertoning in die tweede helfte teen die Bulls die ophef wat oor hulle gemaak word, regverdig – hulle was immers steeds aan die verloorkant – sal seker Saterdag beantwoord word.
Vir die jongste sportnuus, volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24