Proefstryd vir Cheetahs-vleuels
2011-04-29 07:13
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Bloemfontein - Die een is ’n veteraan wat al sy stempel in Frankryk afgedruk het en die ander ’n Super Rugby-groentjie, maar die Cheetahs-vleuels kan Vrydagaand teen die Brumbies hul kleim vir verdere speelkans in 2011 afsteek.
Hoewel Philip Burger en Riaan (True Blue) Smit die Australiërs hier saam sal probeer troef, sal hul individuele pogings ’n rigtingwyser wees van wie voortaan ingespan kan word.
Smit is maar die tweede keer in sy loopbaan in die beginspan, maar het sodanig beïndruk dat hy Burger met nog ’n goeie vertoning onder druk kan plaas.
Hy het in die sentrale streekspan se laaste kragmeting met die Hurricanes twee drieë, waarvan een ’n onderskep-drie was, gedruk en sal homself graag met ’n drie of twee as verjaardaggeskenk wil beloon. Smit het gister 27 jaar oud geword.
Daarteenoor sal Burger in die Vrystaat-stadion wil wys dat dit die moeite werd was om hom van die Franse klubspan Perpignan terug te bring.
Burger is vanweë sy vaart op sy beste vir enige span ’n bate. Tog het hy vanjaar met beserings gesukkel en lyk dit of sy verdediging ’n leemte in sy span se mondering is.
Volgens Hawies Fourie, agterlyn-afrigter van die Cheetahs, het Smit beslis sy kans gebruik en plaas hy sy spanmaats onder druk.
“Riaan het teen die Hurricanes goed gespeel. Dit sou nogal ’n taai keuse tussen hom en Philip Burger gewees het as Rayno Benjamin (dyspierbesering) reg was.
“Dit sou nie ’n gegewe gewees het dat Philip in die beginspan sou wees nie.
“Riaan sit druk op die ouens wat daar is,” sê hy.
Benjamin behoort volgende week teen die Lions terug te keer en daarom kan Burger en Smit met goeie vertonings teen die Brumbies die Cheetahs se spankeuses bemoeilik.
Smit het sy buiging as plaasvervanger in die span se laaste oorsese toerwedstryd – teen die Highlanders – gemaak en met Benjamin se besering teen die Hurricanes as vleuel kans gekry.
Die veelsydige agterspeler, wat ook heelagter en losskakel kan speel, is verheug oor die speelkans wat hy gekry het.
“Aan die begin van die seisoen was ek teleurgesteld toe die Cheetahs se eerste groep uitgelees is en my naam nie daar was nie.
“’n Ou moes maar teruggaan Vodacombeker toe, jou kanse daar gebruik en vorentoe kyk,” sê hy.
Met sy vertoning teen die Hurricanes is hy natuurlik tevrede.
“Voor die wedstryd was ek ’n bietjie senuweeagtig, omdat ek nie ’n gebore vleuel is nie. Maar ek het ’n kans gekry, die bal het reg gespring en die ouens binne my het hul werk goed gedoen.”
In watter posisie Smit Super Rugby speel, maak nie juis vir hom saak nie. Hy meen sy mede-agterspelers skep vir hom genoeg ruimte op vleuel om te kan afrond.
Die spanne is:
Cheetahs: Riaan Viljoen, Philip Burger, Robert Ebersohn, Corné Uys, Riaan Smit, Sias Ebersohn, Sarel Pretorius, Ashley Johnson, Davon Raubenheimer, Heinrich Brüssow, Wilhelm Steenkamp, Francois Uys, WP Nel, Adriaan Strauss (k), Coenie Oosthuizen. PLAASVERVANGERS: Ryno Barnes, Lourens Adriaanse, Martin Muller, Frans Viljoen, Tewis de Bruyn, Naas Olivier, Hennie Daniller.
Brumbies: Pat McCabe, Adam Ashley-Cooper, Andrew Smith, Matt Giteau (k), Francis Fainifo, Christian Lealiifano, Pat Phibbs, Colby Faingaa, Michael Hooper, Mitchell Chapman, Mark Chisholm, Peter Kimlin, Dan Palmer, Stephen Moore, Ben Alexander. PLAASVERVANGERS: Huia Edmonds, Jono Owen, Ben Hand, Julian Salvi, Josh Valentine, Tyrone Smith, Robbie Coleman.
Skeidsregter: Marius Jonker.
Afskop: 19:10.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24