Plumtree steeds ‘trots’
2011-06-27 07:18
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
‘Dit help nie eens om enige verskonings te probeer soek nie, want ons is eenvoudig deur ’n beter span geklop,” het John Plumtree, die Sharks-afrigter, sy span se nederlaag van 8-36 teen die Crusaders in Nelson opgesom.
“Hulle (Crusaders) het baie beter by die moeilike speeltoestande aangepas. Dit was (Saterdag) baie koud (6 grade Celsius) en die veld was baie nat.
“Daar was ook geen kans dat dit kon droog word nie, omdat dit so koud was en hanteerwerk is erg bemoeilik.
“Wat vooraf in die week gebeur het (om daar te kom) het dinge ook vir ons moeilik gemaak, maar ek voer dit glad nie aan as ’n verskoning nie.
“Ek is egter trots op my spelers dat ons die laaste ses gehaal het.
“Dit was glad nie ’n maklike seisoen nie en ons moes hard werk om daar uit te kom.
“In hierdie wedstryd was ons net nie goed genoeg nie,” het Plumtree gesê.
Hy het ook erken sy span het aan die kortste ent van die skeidsregter-beslissings getrek.
Hy wou hom nie verder oor die skokkende vertoning van die Nieu-Seelander Bryce Lawrence uitlaat nie.
Die Sharks se kommersiële bestuurder en voormalige Bok-afrigter, Rudolf Straeuli, het gister gesê hy sal môre ’n paar vrae stel om antwoorde oor van Lawrence se beslissings te kry.
“Ek het ook maar net gesien wat jy gesien het en daarom wil ek ook nie nou té veel sê nie,” was Straeuli se kommentaar.
Plumtree het gesê sy spelers was nie akkuraat genoeg met die bal in die hand nie en het ook duikslae in belangrike stadiums van die wedstryd gemis.
“Rustyd (5-13) was ons nog in die prentjie, maar die drie wat ons op ’n skinkbord vir hulle gegee het kort ná die hervatting was ’n keerpunt.
“Daarna het ons die meeste in ons eie halfgebied gespeel terwyl ons moes probeer terugveg, en dit was ons ondergang.
“Die Crusaders is ’n fantas-tiese span vol All Blacks en dit is nie maklik om hulle te klop nie.
“Die Stormers sal baie goed moet speel om die eindstryd te haal,” het hy gesê van Saterdag se halfeindstryd in Kaapstad.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24