Pienaar-posisie teen Reds nog geheim
2010-04-01 08:04
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Louis de Villiers
Kaapstad - Ruan Pienaar het net betyds sy peil op die rugbyveld herontdek, want die Reds tref Durban dié naweek en hul skakelpaar, die Wallabies Will Genia en Quade Cooper, is aan die spits van hul beste aanslag op Super14-glorie in jare.
Waar Pienaar vir die Sharks stelling sal inneem, sal eers later vandag (Donderdag) bekend wees.
Die Engelse losskakel Andy Goode se werkpermit is weliswaar in orde nadat hy aanvanklik net vir die Sharks se oorsese toer gekontrakteer is, maar nou sukkel hy met ’n dyspier-besering.
Met Monty Dumond wisselvallig in die Vodacombeker-reeks, beteken dit Pienaar sal dalk weer as losskakel ingespan word.
Rory Kockott sal dan weer op skrumskakel uitdraf.
Cooper speel sy rugby vlak voor die voordeellyn en Pienaar sal sy keer moet ken teen dié omstrede losskakel.
Die slegte nuus dat Adrian Jacobs die res van die reeks kan misloop met ’n skouerbesering, maak Waylon Murray die waarskynlike buitesenter.
Dit lyk nie asof die Sharks veel ander veranderinge gaan maak aan die span wat verlede naweek in Wellington met die Hurricanes afgereken het nie.
Die proefneming met John Smit as loskopstut is as suksesvol beskou en die Bok-kaptein sal stellig weer langs die Du Plessis-broers, Bismarck en Jannie, in die voorry sak.
Ook Stefan Terblanche sal op vleuel bly nadat die 19-jarige Patrick Lambie tot dusver beïndruk het op heelagter.
Die Reds, wat hul Suid-Afrikaanse toer skitterend afgeskop het met ’n klinkende sege oor die Cheetahs in Bloemfontein, se enigste besering-kommernisse is die stut Laurie Weeks en die agtsteman Leroy Houston.
Albei het beenbeserings opgedoen teen die Cheetahs, maar die verwagting is dat albei oormôre slaggereed sal wees vir die Sharks.
Die breier van die Brisbane-span, Ewen McKenzie, het teenoor Australiese media laat val dat hy ’n paar van sy jonger spelers dié naweek ’n blaaskans kan gee.
Die Reds se verbeterde peil vanjaar is grotendeels te danke aan hul skakelpaar, maar McKenzie en sy toewyding daartoe om jonger spelers ’n kans te gee, is bitter belangrik in dié oplewing.
Die stut Ben Daley (21) en slot Rob Simmons (20) het die laaste weke goed gevaar, maar McKenzie meen die tyd is ryp om hulle te laat rus.
Hulle sal waarskynlik deur onderskeidelik Greg Holmes en Adam Byrnes vervang word vir die kragmeting met die Sharks.
Die Sharks het die seisoen power afgeskop, maar twee oorwinnings in hul laaste twee wedstryde teen die Highlanders en Hurricanes in Nieu-Seeland, het ’n tydige waarskuwing gerig aan hul oorblywende teenstanders.
Maar ’n aanval wat vanjaar soms tandeloos gelyk het, sal op sy allerbeste moet wees om veel heil te kry teen die derde snoepste verdediging in Super-rugby.
Die Reds het tot dusver nog net 13 drieë in die reeks afgestaan nadat hulle jare lank ’n melkkoei in dié reeks was.
Sharks-span (moontlik):
Patrick Lambie, Stefan Terblanche, Waylon Murray, Riaan Swanepoel, JP Pietersen, Ruan Pienaar, Rory Kockott, Ryan Kankowski, Willem Alberts, Jacques Botes, Steven Sykes, Alistair Hargreaves, Jannie du Plessis, Bismarck du Plessis, John Smit (k).
- Sport24