Oud-Bok gee Sias skop
2011-05-10 09:51
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Ondanks verskeie geleenthede om sy rugbyloopbaan elders voort te sit, het Sias Ebersohn geduldig hier sy kans as losskakel afgewag – en het hy vanjaar binne enkele Super Rugby-wedstryde ’n Cheetahs-angel geword.
Ebersohn se goeie spelpeil is een van die redes waarom die tuisspan waarskynlik glo dat hy die span van die Crusaders Saterdag in die Vrystaat-stadion kan klop.
Dié 22-jarige generaal gee sy span rigting op die aanval; sy skopskoen se visier is goed ingestel; en ’n moontlike tweestryd met Daniel Carter kon nie op ’n beter tyd vir hom gekom het nie.
Volgens Ebersohn kon hy na ander spanne koers kies, maar het sy geduld in die Rosestad vrugte afgewerp.
“Ek gee myself al vier jaar kans om te speel, maar daar is heeltyd gesê my skoppe pale toe is nie goed genoeg nie.
“Daarom het ek al hoe harder aan my skoppe gewerk en dalk nie so baie aandag aan ander afdelings gegee nie. Noudat ek beter skop, voel dit of ek oor die algemeen ’n groter bydrae kan lewer en daarom is my algehele spel beter.
“Ek skryf my spelpeil toe aan baie geduld en harde werk. “Daar was geleenthede om vir die Haaie (Sharks) en selfs die Western Force te speel, maar ek het besluit om geduldig te wees en hard te werk,” sê hy.
Ebersohn, wie se skoolheld Jonny Wilkinson (Engeland) was, se korrelwerk pale toe het hom lank uit die beginspan gehou, maar dit het ná die insette van die skopghoeroe Louis Koen vroeër vanjaar verbeter.
Ebersohn het teen die Lions al sy skoppe – vier doelskoppe en ses strafskoppe – deur die pale gejaag.
“Toe ek na Louis toe is, het baie van die regte goed in skopwerk vir my ongemaklik gevoel.
“Die regte goed begin nou meer gemaklik voel. Nou moet ek weer oppas om in ’n gemaksone te verval.
“Louis het my geleer om elke skop as ’n nuwe een te benader en dat jy nie aan voriges wat jy oorgesit het, kan dink nie.”
Hoewel Carter die laaste paar weke met ’n besering sukkel, sal hy straks sy terugkeer teen die Cheetahs maak.
“As losskakel speel jy nie juis fisiek teen jou direkte teenstander nie, maar as jy jou job in die span beter as jou teenstander kan doen, het jy geslaag,” sê Ebersohn.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24