O’Connor spel gevaar vir Stormers
2011-03-24 08:15
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Kaapstad - Dis Saterdag ’n geval van een van die beste aanvallers in wêreldrugby teen die suinigste verdediging in Super Rugby wanneer die Western Force op Nuweland kom besoek aflê.
Ofskoon die Force met byna soortgelyke oorgawe as die Stormers verdedig, beskik hul losskakel, James O’Connor, oor die X-faktor wat nodig is om oor die Kapenaars se doellyn te kom.
“Die groot ding is om vertroue in jou stelsel op die verdediging te hê,” het die Stormers se kaptein, Jean de Villiers, Woensdag gesê toe hy gevra is hoe jy ’n speler soos O’Connor kan hokslaan.
“Daar sal dalk gesê word dat ons in sy gesig moet speel en hom grond toe moet vat, maar hy het al meer as 20 toetse en drie seisoene van Super Rugby gespeel, en ek het nou nog nie gesien dat iemand hom ordentlik beetkry nie.
Hy is ’n puik speler.”
O’Connor was net 17 jaar oud toe hy in 2008 sy buiging in Super Rugby as plaasvervanger teen die Reds in Brisbane gemaak het. Hy het later daardie jaar ook sy eerste toets vir die Wallabies teen Italië in Padova gespeel.
Of hy nou heelagter, vleuel, senter of losskakel speel, is O’Connor ’n groot faktor op die aanval. Hy is boonop ’n goeie stelskopper en sal sekerlik ’n groot rol speel indien die Force Saterdag teen die verwagting in wen.
Die Stormers verbeter byna elke week op die aanval, maar De Villiers wil sien dat hulle kanse beter benut as daar bresse geslaan word.
“Ons het vier kanse gehad om drieë teen die Bulls te druk, maar kon net een keer afrond. Ons moet daardie drieë druk as die geleenthede hulle voordoen,” het De Villiers gesê.
“Die Force is ’n goeie verdedigende span. Hulle het baie goeie strukture, ’n goeie losvoorspeler-kombinasie – selfs terwyl David Pocock op die krukkelys is – en bou hul spel om sleutelspelers soos O’Connor, Cameron Shepherd en Nathan Sharpe.
Intussen is die enigste verandering in die Stormers se beginspan op slot waar De Kock Steenkamp die beseerde Rynhardt Elstadt vervang.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24