Nuweland-stryd ’n maatstaf
2012-01-27 09:02
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Johannesburg – Dit gaan meer spinnerakke as hare wees wat waai wanneer Super-rugby se eerste kleedrepetisie Vrydagaand op Nuweland in Kaapstad plaasvind.
In ’n jaar wat hy moontlik nog die Springbok-kaptein kan wees, draf Schalk Burger die eerste keer dié seisoen as die Stormers se leier vir hul losmaker teen die Lions uit.
Burger se Stormers het verlede jaar die Suid-Afrikaanse groep van die Super-reeks gewen, terwyl die Lions in Goue Leeus-gewaad Curriebeker-glorie ervaar het.
Dit klink na ’n rugbyfees wat vanaand wag, maar ongelukkig weet ons beter as om veel van dié verheerlikte kontaksessie te verwag. Tog is dit nodig om jouself te meet met sowat ’n maand wat nog voorlê voor die Super-reeks begin.
’n Paar rugbyhonger toeskouers sal sekerlik Nuweland toe stroom om te sien wat brou in Allister Coetzee se Stormers-groep. Ongelukkig steek roes gewoonlik ’n stokkie voor ondersteuners se planne om ’n tweestryd van ware gehalte te sien.
Vir die afrigters sal dit wel van waarde wees en Coetzee én sy Lions-eweknie, John Mitchell, het ’n paar dinge waarop hulle sal let:
Kombinasies: Vir die Stormers is die heelagter-posisie nog onder die loep terwyl hul skakelpaar nog lank nie gevestig is nie. Die lostrio moet ook sonder Francois Louw en Duane Vermeulen naels wys en die vaste vyf is – soos amper altyd – ’n vraagstuk.
Die Lions soek lank reeds ’n gebalanseerde slotpaar en Mitchell sal wil sien dat Michael Bondesio in die nr.9-trui sy opgewassenheid vir Super-rugby van meet af aan bewys.
Nuwelinge:Vir die Kapenaars is Joe Pietersen weer terug as heelagter, terwyl Deon Carstens (stut), Burton Francis (losskakel) en Gerhard van den Heever (vleuel) later in die wedstryd die eerste keer op hul nuwe tuisveld kan speel.
Hendrik Roodt is die Lions se nuwe slotreus en die Pumas-losvoorspeler Doppies le Roux sal as plaasvervanger sy kleim wil afsteek.
Algemene gereedheid:Kontak-fiksheid, besluitneming, vaste fasette asook verdediging- en aanvalstrukture. Coetzee en Mitchell wil sien hoeveel werk nog in dié verband voorlê.
Die Stormers moet vanjaar aanvallende vernuf by hul rotsvaste verdediging voeg en die Lions, met hul vertroue op groter fiksheid en ’n hoë speltempo, kan in 2012 ’n einde aan hul gebruiklike gesukkel in Super-rugby maak.
Die spanne is:
Stormers: Joe Pietersen, Gio Aplon, Juan de Jongh, Jean de Villiers, Bryan Habana, Gary van Aswegen, Louis Schreuder, Nick Koster, Siya Kolisi, Schalk Burger (k), De Kock Steenkamp, Eben Etzebeth, Brok Harris, Deon Fourie, Steven Kitshoff. PLAASVERVANGERS: Tiaan Liebenberg, Deon Carstens, Frans Malherbe, Don Armandt, Reuben Johannes, Nizaam Carr, Nic Groom, Burton Francis, Marcel Brache, Gerhard van den Heever, Danie Poolman.
Lions: Jaco Taute, Deon van Rensburg, Lionel Mapoe, Doppies la Grange, Michael Killian, Butch James, Michael Bondesio, Warren Whiteley, Josh Strauss (k), Derick Minnie, Franco van der Merwe, Hendrik Roodt, Pat Cilliers, Bandise Maku, JC Janse van Rensburg. PLAASVERVANGERS: Callie Visagie, Caylib Oosthuizen, Jacobie Adriaanse, Stephan Greeff, Ruan Botha, Cobus Grobbelaar, Doppies le Roux, Anthony Volminck, Dylan des Fountain, James Kamana, Andries Coetzee.
Skeidsregter: Jaco Peyper.
Afskop: 19:00.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24