‘Nuwe’ Bulls se Super-doepa
2011-11-17 10:57
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Pretoria – Die feit dat die enigste twee afrigters in Suid-Afrika wat al die Super Rugby-reeks kon wen in die Bulls se kraal is, is een van die groot redes waarom dié streekspan nie aanstaande jaar afgeskryf kan word nie.
Voeg daarby ’n paar aanpassings ten opsigte van spelpatroon, personeel en fokus en dit is duidelik waarom hulle die nuwe seisoen met heelwat selfvertroue binnegaan, sê die Bulls se oorhoofse rugbybaas, Heyneke Meyer.
Hy en Frans Ludeke is die enigste twee afrigters wat al die Super-trofee omhoog kon hou. Hoewel ’n gros van die spelers wat dit saam met hulle kon doen nie meer in die Bulkraal wei nie, is die nuwe spelers in die groep potensieel ewe gedug, sê Meyer.
“Ons bring nie graag nuwe spelers van buite af in nie, want ons glo sterk daaraan om ons eie spelers volgens die Bulls-kultuur te ontwikkel. Dié wat ons wel inbring, moet die potensiaal hê om Springbokke hier by ons te word en dié groepie kan dit wel doen,” sê Meyer met verwysing na nuwelinge soos Johann Sadie, Jano Vermaak, Lionel Cronjé, Jacques Potgieter en JJ Engelbrecht.
Meyer het ook aangekondig dat Pierre Spies die span sal lei en Wynand Olivier is die onderkaptein.
“Ons sal altyd die Bulls bly en die wyse waarop ons speel, sal altyd inherent Bulls bly, maar jy moet aanpassings maak en by die veranderings in rugby bly,” sê Meyer.
Die span se hoofafrigter, Ludeke, sê daar is reeds aspekte uitgewys waarin hulle wil beter vertoon.
“Dissipline, aanval en sterk eerste fases is dinge waaraan ons nog altyd geglo het. Eersgenoemde twee het in die laaste jaar effens teruggesak en ons móét dit regstel as ons suksesvol wil wees. Ons gaan ook baie aandag aan kondisionering skenk en die span sal beslis een van die fiksstes in die reeks wees.”
Die Bulls gaan nie meer, soos in die verlede, George toe vir ’n oefenkamp nie. Hulle sal al hul voorbereiding in Pretoria doen.
“Hier is minder afleidings (soos die see) en ons kan ons toespits op die werk wat gedoen moet word,” sê Ludeke.
* Die groep wat gister bekend gemaak is, bestaan uit die volgende spelers (*dui spelers aan wat die eerste keer deel van groep is):
Agterspelers: Zane Kirchner, Jurgen Visser*, Lionel Cronjé*, Clayton Blommetjies*, Bjorn Basson, JJ Engelbrecht*, Sampie Mastriet*, Akona Ndungane, Ulrich Beyers*, Adri Jacobs*, Wynand Olivier, Johann Sadie*, Francois Venter*, Louis Fouché*, Morné Steyn, Wesley Dunlop*, Francois Hougaard, Ruan Snyman en Jano Vermaak*.
Voorspelers: Pierre Spies (k), CJ Stander, Arno Botha*, Gerrit-Jan van Velze, Daniel Adonga*, Jean Cook*, Dewald Potgieter, Jacques Potgieter*, Jono Ross*, Warwick Tecklenburg*, Deon Stegmann, Juandré Kruger, Mthunzi Mabeta, Wilhelm Steenkamp, Flip van der Merwe, LB Lusaseni*, Cornell Hess*, Franco Mostert*, Werner Kruger, Rossouw de Klerk, Frik Kirsten, Dean Greyling, Morné Mellett, Dawie Steyn*, Chiliboy Ralepelle, Willie Wepener*, Robbie Coetzee* en Bongi Mbonambi*.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24