Nóg ’n knou vir Stormers
2010-04-06 09:15
In-diepte Verslae
Die Kings het aangekondig dat hul vaardigheidsafrigter, Brad Mooar, die span weens persoonlike redes verlaat het en op pad terug is na Nieu-Seeland.
Die Cheetahs se afrigter, Naka Drotské, het die versoeking weerstaan om Heinrich Brüssow in die 15-tal te kies vir die stryd teen die Higlanders.
Kaapstad - JD Moller kry Saterdag teen die Blues in Auckland ’n nuwe Super-rugbylewe nadat die loskopstut JC Kritzinger ’n dyspierbesering opgedoen het.
Die Stormers se voorspeler-afrigter, Matthew Proudfoot, het Maandag uit Nieu-Seeland aan Sport24 bevestig dat die Stormers se diepte op stut vandeesweek verder uitgedun is. Wicus Blaauw het die seisoen as die eerste keuse op loskopstut begin, maar het sy hand gebreek in die onlangse sege oor die Cheetahs.
Kritzinger se besering is gelukkig nie ernstig nie en daar is selfs ’n kans dat hy hom op die Stormers se plaasvervangersbank kan bevind.
Goeie nuus is dat die senter Juan de Jongh weer fiks is, terwyl die heelagter Joe Pietersen na verwagting volgende week weer vir die span beskikbaar sal wees.
“Ons sal in Vrydag se kapteinsoefening besluit of JC op die bank diens kan doen. Hy het goed gevaar oor die naweek, maar sy dyspier liggies gerek,” sê Proudfoot.
“JD sal die aangewese ou wees om te begin met die soort uitdaging wat die Blues voorlangs bied. Hy is ’n robuuste speler en ek was beïndruk met sy spel as loskopstut in die Vodacombeker-reeks.”
As Kritzinger nie fiks genoeg vir die plaasvervangersbank is nie, behoort die Argentyn Eusebio Guinazu weer in die Stormers se groep te wees. Guinazu is hoofsaaklik ’n vaskopstut, maar kan ook loskop speel.
Moller het darem al 47 wedstryde vir die Stormers agter die blad en behoort sy man fisiek te kan staan, ondanks die feit dat hy die Kapenaars se derde keuse in die posisie is.
De Jongh behoort as Jaque Fourie se sentermaat terug te keer nadat Tim Whitehead hom in sy afwesigheid skaflik van sy taak gekwyt het.
Daar kan straks ook weer op Dewaldt Duvenage se nommer gedruk word om in Ricky Januarie se plek op skrumskakel diens te doen.
Die Stormers sal ook vir die tweede week agtereenvolgens met die Australiese blaser Stuart Dickinson te doen kry. Baie ondersteuners sal hieroor sug, maar Proudfoot glo dis vir die Kapenaars ’n voordeel.
Dickinson dra beslis nie in die Stormers-kamp die blaam vir Vrydag se nederlaag teen die Western Force nie.
“Dis lekker dat ons Dickinson weer kry, want ons het die voordeel dat ons ’n begrip vir sy vertolkings het,” sê Proudfoot.
“Baie mense het gevoel dat ons swak behandel is, maar Maandag se ontleding van die wedstryd het gewys presies hoe akkuraat Dickinson was. Ons sal by sy reëlvertolkings moet aanpas.”
Dis natuurlik vreemd om te hoor dat ’n Suid-Afrikaanse span nié oor Dickinson kla nie, maar terselfdertyd verblydend dat die Stormers selfondersoek doen eerder as om die faktore buite hul beheer te verwens.
Watter blaser ook al in beheer van sake staan, die Stormers gaan eenvoudig heelwat beter moet speel as teen die Force. Hulle is nou onder druk om vir daardie nederlaag te vergoed teen ’n span wat die Bulls op hul baadjie gegee het.
Nietemin is die Blues berug vir hul gebrek aan bestendigheid. Die Nieu-Seelandse skrywer Chris Rattue het die Blues gister in die New Zealand Herald uitgedaag om vir “twee weke in ’n ry” goed te speel en getwyfel of hulle beslis ’n ommekeer in hul veldtog bewerkstellig het met die naweek se sege oor die Super14-kampioen.
- Die Burger