Nóg lostrio-probleme vir Stormers
2012-05-13 20:01
In-diepte Verslae
Die Bok-stut Tendai "Beast" Mtwarira is terug vir die Sharks se Super-stryd teen die Bulls, nadat hy lank op die kantlyn was weens 'n besering.
Die Cheetahs se afrigter, Naka Drotské, het die versoeking weerstaan om Heinrich Brüssow in die 15-tal te kies vir die stryd teen die Higlanders.
Kaapstad – Die Stormers se diepte sal verder in die volgende paar weke getoets word nadat hul lostrio-krisis vererger het.
Hulle het Saterdag ‘n oninspirerende oorwinning van 16-14 oor die Cheetahs op Nuweland behaal. Dié oorwinning het egter teen ‘n prys gekom – die agtsteman Nizaam Carr het ‘n kniebesering opgedoen in die eerste helfte.
Allister Coetzee, afrigter van die Stormers, het ná die wedstryd gesê Carr se besering lyk ernstig.
“Die besering aan Carr lyk nie goed nie en dit lyk asof dit langtermyn sal wees,” het Coetzee gesê.
Die Stormers het die London Irish-losvoorspeler Jebb Sinclair verlede week by die span laat aansluit, met eerstekeuse-spelers soos Schalk Burger, Duane Vermeulen en Nick Koster wat steeds beseer is.
Nóg probleme het gevolg toe die flank Rynhardt Elstadt ‘n geelkaart ontvang het ná ‘n skermutseling met die Cheetahs-spelers.
Elstadt kan geskors word wanneer die voorval ondersoek word. Dit kan moontlik die Stormers van sy dienste beroof vir komende wedstryde.
Coetzee en die Stormers-kaptein, Jean de Villiers, het geen poging aangewend om hul teleurstelling met hul span se swak vertoning weg te steek nie.
“Dit is nie ‘n verskoning nie, maar dit was weer ‘n swak vertoning ná ‘n loslootjie,” het Coetzee gesê.
“Ons sal moet verbeter as ons iewers heen wil gaan in hierdie kompetisie.”
De Villiers het gesê die vertoning was “swak” en van die vertonings van Springbokke in die span het nie aan standaarde voldoen nie.
“Daar was vertonings (deur Springbokke) daarbuite wat nie die Springboktrui werd is nie,” het De Villiers gesê.
“Ons het gewen, maar ons is nie gelukkig met die manier waarop ons in die tweede helfte gespeel het nie.”
Die Cheetahs-afrigter, Naka Drotské, het gesê die nederlaag was teleurstellend, veral aangesien sy span hul huiswerk gedoen het en geweet het wat om te verwag op Nuweland.
“Ons weet dat die Stormers 65% van hul punte deur strafskoppe aanteken en dan gee ons strafskoppe in ons eie helfte weg weens swak dissipline,” het Drotské gesê.
- Volg Nuus24Sport op Twitter
- SAPA