Nie plek vir ’n muis in Soweto-stadion
2010-05-26 06:50
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Fanie van Rooyen, Die Burger
Pretoria
Kaartjies vir die Super14-eindstryd Saterdag tussen die Bulls en die Stormers in die Orlando-stadion in Soweto het gisteroggend binne ’n paar uur uitverkoop.
Die 3 200 rugbykaartjies wat vanaf 09:00 by Computicket gekoop kon word, was teen 09:10 reeds uitverkoop.
Talle Bulls-ondersteuners, wat Saterdag met die halfeindstryd hul eerste Soweto-ervaring gehad het, het gisteroggend in lang toue voor die kaartjiekantoor by SuperSportpark in Centurion en Computicket-takke gaan staan om vir die eindstryd wéér na Soweto te kan opruk.
“Dit was ongelooflik en ons wil nóg hê,” het Div de Villiers van Centurion gesê.
“Die atmosfeer en die gasvryheid was fantasties en die stadion self is pragtig. Ek kan nie wag om weer te gaan nie.”
Barend van Graan, uitvoerende hoof van die Blou Bulle Maatskappy (BBM), het bevestig al die kaartjies vir die eindstryd is uitverkoop en dat die BBM verwag om geen van die stadion se 36?500 sitplekke leeg te sien nie.
Die eindstryd begin om 17:00.
De Villiers, wat weens die erge verkeer verlede Saterdag op pad na die Orlando-stadion die laaste 2,5 km na die stadion moes stap en die eerste 20 minute van die halfeindstryd gemis het, het gesê hy sal sy eerste Soweto-ervaring vir niks verruil nie.
“Ons het glad nie onveilig gevoel nie en het selfs by mense se huise ingegaan om te piepie – dit was great.”
Luzanne Rautenbach van Lyttelton, wat weens die verkeer haar halfeindstryd-kaartjie verbeur en omgedraai het, was gister ook by SuperSportpark om die naweek wéér te gaan.
“Ons het Saterdag twee uur lank by Nasrec stilgestaan en teen 16:10 besluit om om te draai sodat ons die wedstryd ten minste op TV kon gaan kyk.”
Vir die eindstryd gaan sy die busse vanaf Centurion probeer.
“Ek het gehoor daar was min probleme met die Centurion-busse, so ek gaan my kaartjie koop en hopelik kan ek dié keer die wedstryd kyk.”
Japie Breytenbach van Brakpan, wat by die halfeindstryd was, het gesê die Orlando-stadion is “byna so goed soos Loftus”. “Dit was bleddie lekker – behalwe vir die vuvuzelas.”
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24