Neo Africa-reeks van die baan
2012-01-20 09:10
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Bloemfontein. – Die eerste wind wat die Neo Africa-reeks gesluk het, was toe eindelik net die begin van die einde daarvan.
Eers is die Cheetahs in die plek van die Sharks in die driehoekige oefenreeks ingesluit en nou gaan dit glad nie meer plaasvind nie.
Die rugbyspan van die sentrale streek se voorbereiding vir die Super-reeks is die soveelste keer aangepas nadat Neo Africa hom as borg van die reeks – tussen die Lions, Stormers en Cheetahs – in Kaapstad onttrek het.
Die Cheetahs sal nie meer ’n opwarmwedstryd teen die Lions op Nuweland speel nie, maar wel steeds met die Stormers daar kragte meet.
’n Cheetahs-span sal nou in die plek van die Lions-stryd, wat op Dinsdag 31 Januarie sou plaasvind, teen die Griffons in Welkom of die Rosestad speel.
Naka Drotské, die Cheetahs se afrigter, het Donderdag aan Sport24 bevestig die Moederstad-reeks is van die baan.
“Neo Africa het hom onttrek as borg. Die hele reeks is af.
“Die Stormers het gevra of ons steeds sal afgaan Kaap toe om ’n oefenwedstryd teen hulle te speel,” het hy gesê.
Die oefenstryd teen die Stormers, wat deel van die Neo Africa-reeks was, sal steeds op Saterdag 4 Februarie voortgaan en nou as ’n DHL-uitdaagwedstryd bekend staan.
Dié verandering sal ook die Cheetahs se reisreëlings gunstig beïnvloed.
Drotské-hulle sou aanvanklik op Sondag 29 Januarie vanaf Port Elizabeth, ná hul eerste oefenstryd teen die Southern Kings ’n dag tevore, hierheen terugkeer en weer Maandag 30 Januarie Kaap toe vertrek.
Die Cheetahs sal nou eers Vrydag 3 Februarie na die Moederstad vlieg, Saterdag 4 Februarie teen die Stormers speel en Sondag 5 Februarie terugkeer.
Voor dié span se deelname aan die Neo Africa-reeks sou hy drie oefenstryde, op 28 Januarie teen die Southern Kings, op 3 Februarie teen die Bulls en op 11 Februarie teen die Sharks, gespeel het.
John Plumtree, die Sharks se afrigter, het ná sy span se onttrekking aan bogenoemde reeks gesê hy wou nie ’n oefenstryd én in sy tweede Super-wedstryd teen die Stormers speel nie.
Die Cheetahs se oefenstryde is: 28 Januarie: Southern Kings (Oos-Londen); 31 Januarie: Griffons (Welkom/Bloemfontein); 4 Februarie: Stormers (Kaapstad) en 11 Februarie: Bulls (Polokwane).
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24