Mylpale wink vir Morné
2012-01-13 07:46
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Pretoria – Daar is die mikpunte van 1 000 Super-punte en 100 Super-wedstryde vir die Bulls se Morné Steyn in 2012, maar waarskynlik nou ook ’n tweestryd met die Crusaders se Dan Carter op Loftus Versfeld.
Dié Crusaders-losskakel het vandeesweek die jawoord gekry om in Maart weer te begin rugby speel nadat hy sy lies tydens die Wêreldbeker-toernooi in Nieu-Seeland geskeur en hy daarna in Melbourne geopereer is.
Hy behoort fiks te wees vir die Suid-Eilanders se stryd teen die Bulls, op 7 April in Pretoria.
Steyn, wat ook later vanjaar die eerste keer pa gaan word, het reeds 973 punte in 89 wedstryde vir die Bulls aangeteken en behoort beslis die 1 000-kerf én sy 100-tal in die Super-reeks te haal.
Die skerpskutter het vandeesweek die eerste keer weer aan sy skopwerk pale toe begin slyp en dit was duidelik dat hy weinig van sy akkuraatheid prysgegee het sedert die Wêreldbeker-toernooi, waar hy laas geskop het.
Volgens die Bulls se skop- afrigter, Vlok Cilliers, is Steyn verbied om vroeër sy skopwerk te oefen.
“Dit was nodig dat Morné ’n behoorlike ruskans kry, daarom het hy nie voor ons Kersfees-blaaskans sy skoppe geoefen nie.”
Cilliers het gesê hy kan nou weer hard werk “sodat hy slaggereed en skerp is as die seisoen begin”.
Die skopghoeroe werk die laaste paar maande kliphard saam met veral Lionel Cronjé en Louis Fouché om ook hul visier ingestel te kry.
Fouché behoort Steyn se adjudant te wees, met Cronjé wat as veelsydige speler ingespan gaan word.
“Ons is gelukkig om ’n paar veelsydige spelers te hê en dit is altyd belangrik vir ’n span se diepte in Super-rugby,” het die Bulls-breier, Frans Ludeke, gesê.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg