Mylpaal wink vir Sharks
2011-03-09 08:57
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Johannesburg - Met ’n oorwinning Vrydag in Melbourne oor die Rebels sal die Sharks iets regkry wat hulle nog nooit kon vermag nie: om al hul wedstryde op ’n Super Rugby-toer in Australië te wen.
Wallaby-land is nou maar eenmaal nie ’n gelukkige jagveld vir die Sharks nie. Selfs in die jare wanneer hulle net een van hul vier oorsese wedstryde daar gespeel het, het hulle dit verloor.
Dit was meestal teen die Reds in Brisbane, waar hulle nog net een keer kon wen. Oorwinnings in Sydney (oor die Waratahs) en Canberra (Brumbies) was ook omtrent so skaars soos egte Pommies in die Engelse krieketspan.
Klop die Sharks die Rebels dus Vrydag, kerf hulle ’n stukkie geskiedenis uit Doer Onder, nadat hulle hul oorsese toer met ’n sege oor die Force in Perth begin het.
Rod Macqueen, die Rebels-afrigter en man wat aan die stuur van die Wallabies was toe hulle in 1999 die Wêreldbeker gewen het, het gesê sy agttal sal die Sharks in toom moet hou as hulle ’n wenkans wil hê.
Hy het Dinsdag op ’n mediakonferensie in Melbourne gesê daar is waarskynlik nie ’n meer aggressiewe en fisieke pak in die Super Rugby-reeks as die Sharks nie.
“Ek het baie respek vir die Sharks.
“Hulle is seker een van die mees gevreesde spanne in Super Rugby.
“Ons kan nie ’n groter maatstaf vir ons krag kry as hierdie wedstryd nie. Ek vertrou ons agttal sal kan staande bly. In die skrums sal dit meer gaan oor tegniek as massa en krag.
“Die agttal moet net toesien dat hulle meer goeie besit aan die agterlyn gee om mee te kan aanval.”
Die Rebels kon nog net twee drieë in hul eerste drie wedstryde druk. Boonop kom hulle nou te staan teen die enigste span in die reeks wat nog nie ’n drie afgestaan het nie.
- Die jong vleuel Mark Richards het die laaste paar dae geskarrel om al sy sake in orde te kry nadat die Sharks hom skielik na Melbourne ontbied het.
Hy het saam met die Blitsbokke in Kaapstad voorberei toe hy versoek is om die beseerde JP Pietersen te vervang.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24