'Méér as spiere nodig vir dié kragmeting'
2011-04-29 09:00
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Kaapstad - Die fisieke toets gaan uitmergelend wees, maar moenie die belangrikheid van die sielkundige aspek in Saterdag se Super Rugby-wedstryd tussen die Stormers en die Sharks op Nuweland onderskat nie.
Francois Louw, Springbok-flank van die Stormers, het juis dáárop gesinspeel toe hy gevra is wat die Kapenaars uit hul onlangse sege in Durban geput het.
“Een ding is dat ons sielkundig vir daardie wedstryd ‘opgedaag’ het. Elkeen in die 22-tal het ingekoop. Ons het ’n sege as ononderhandelbare doelwit gestel en dit bereik,” het Louw gesê.
Die Sharks, wat al vyf keer vanjaar bonuspunte verdien het deur vier drieë in wedstryde te druk, sal egter hoogs gemotiveerd wees om hul nederlaag vroeër vandeesmaand te wreek.
Enige Sharks-ondersteuner sal jou vertel dat hulle die Stormers in Durban sonder Patrick Lambie moes aandurf en boonop vlugvoos was nadat hulle eers in Australië en Nieu-Seeland gaan toer het en daarna die Crusaders in Londen gaan aandurf het.
Lambie is nou terug en die Sharks het lekker momentum vir dié stryd opgebou deur die Hurricanes met 40-24 in Durban te klop.
Die Stormers sal moet keer vir al wat hulle werd is om die besoekers se stormramme in die binne-verdedigingskanale in toom te hou. Dis dáár waar Willem Alberts met mening gaan aanval en die Sharks sal ongetwyfeld laat in die wedstryd Jean Deysel ook as kragtige impakspeler inspan.
“Willem hou beslis ’n bedreiging in. Hy is hul sterkste baldraer en die Sharks se spilpunt. Dis vir ons belangrik om hul baldraers fisiek te oorheers en seker te maak dat hulle nie ver vorder nie,” het Louw gesê.
As dit by keerwerk kom, is daar egter geen beter span as die Stormers nie en die Sharks, wat as Suid-Afrika se beste aanvallende eenheid na Nuweland opruk, kan heel moontlik hul rieme styfloop teen ’n span wat in agt wedstryde slegs ses drieë afgestaan het.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24