Mapoe-sage kan drama ontketen
2010-05-21 09:39
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Hendrik Cronjé en Jóhann Thormählen
Bloemfontein - Die Suid-Afrikaanse Rugbyspelersvereniging (Sarpa) kan reeds vandag sê of Lionel Mapoe steeds ’n geldige kontrak met die Vrystaatse Rugbyunie (VRU) het.
Eugene Maqwelana, Sarpa se lede-raadgewer, sê hul prokureurs het Mapoe se kontrak gisteroggend onder oë gehad, maar wou eers met die vleuel se agent, Jan-Harm van Wyk, gesels voordat ’n verklaring uitgereik word.
Mapoe het volgens die VRU ’n standaard-kontrak van Sarpa en die inhoud van die verklaring kan verreikende gevolge vir Suid-Afrikaanse rugby inhou, aangesien die meeste unies, onder wie die Cheetahs, die Sarpa-kontrak as geldig beskou.
Dít het die Sharks egter nie verhinder om reeds gister ’n verklaring uit te reik waarin bekend gemaak is dat Mapoe sy rugby die volgende twee en ’n half jaar in Durban sal speel nie.
Brian van Zyl, uitvoerende hoof van die Sharks, het dit bevestig en gesê Mapoe se kontrak met die Cheetahs het reeds op 9 Maart 2010 geëindig.
“Hy het intussen ’n sertifikaat van vrystelling van die Cheetahs versoek en sal volgende week saam met die Sharks-groep begin oefen,” lui die verklaring.
Harold Verster, president van die VRU, het gister aan Sport24 herbevestig dat geen vrystellingsertifikaat aan Mapoe gegee sal word nie en dat hy een van dié unie se spelers is.
Indien die Vrystaat nie ’n sertifikaat onderteken nie, mag Mapoe nie vir die Sharks speel nie. Die Cheetahs kan wel nie verhinder dat hy intussen saam met die Sharks oefen nie.
“Ons het ’n geldige kontrak met Mapoe en gaan ons regte beskerm,” sê Verster.
Mapoe se agent, Van Wyk, sê hy wag totdat ’n moontlike regsgeding afgehandel word voordat hy iets sal sê.
Die Sharks stel intussen daarin belang om hul span met verskeie ander Cheetahs-sterre te versterk. Sport24 het reeds vroeër berig dat Sias Ebersohn (losskakel) een is.
Sy broer, Robert (senter), is nog een. Dié tweeling het tans nog Cheetahs-kontrakte en is in die Vrystaters se Curriebeker-groep ingesluit.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24