Mank Lions jag JP Nel
2012-03-29 10:02
In-diepte Verslae
Die voormalige Springbok-breier Nick Mallett is glo deur die Sharks genader om die leisels by die hoofafrigter John Plumtree oor te neem.
Die Cheetahs se afrigter, Naka Drotské, het die versoeking weerstaan om Heinrich Brüssow in die 15-tal te kies vir die stryd teen die Higlanders.
Johannesburg – Die voormalige Bulls-plettervatter JP Nel kan op ’n verrassende wyse ’n terugkeer tot Super-rugby maak as die Lions hom vra om hulle as senter uit ’n beseringskrisis te help.
Nel (31) het vir die NTT Shining Arcs in Japan gespeel, maar sy kontrak het tot ’n einde gekom en sy kop staan glo Frankryk toe.
Met die Japanse rugbyseisoen agter die rug, bevind Nel hom nou in Suid-Afrika.
Volgens inligting het die Lions reeds oor Nel se beskikbaarheid navraag gedoen nadat Doppies la Grange die afgelope naweek die soveelste Lions-senter geword het wat op die krukkelys beland het.
Met Waylon Murray en Dylan des Fountain óók lank uit, wag die Lions angstig om te sien of Alwyn Hollenbach en Lionel Mapoe fiksheidstoetse voor Saterdag se wedstryd teen die Crusaders slaag.
As die senter-situasie vererger, kan Nel glo gevra word om eersdaags vir ’n paar weke by die Lions in te val.
Hy het ervaring van 78 Super-wedstryde vir die Bulls, 79 wedstryde vir die Blou Bulle en het die Super-reeks twee keer saam met die Bulls gewen.
By NTT was hy spanmaats met die voormalige All Blacks Isaac Ross en Sosene Anesi.
As Nel instem om te help – en as hy fiks genoeg is – kan dit ’n baie interessante terugkeer tot Super-rugby vir hom wees sedert hy Suid-Afrika in 2009 vaarwel toegeroep het.
Hy is kort voor sy vertrek weens ’n gevaarlike duikslag op die Sharks se Stefan Terblanché vir vier weke geskors en dít het verhinder dat hy in die Bulls se seëvierende halfeind- en eindstryd teen onderskeidelik die Crusaders en die Chiefs kon speel.
Hy het daarna in ’n onderhoud met Sport24 gesê hy gaan nie weer Super-rugby speel nie, aangesien hy onregverdig geskors word vanweë ’n stigma op sy naam wat deur vorige oortredings meegebring is.
Nel is in sowel 2007 as in 2008 ’n week lank geskors, onderskeidelik weens ’n stywe armloop en ’n boorvat en hy is, soos die geval vroeër met ’n huidige Lions-speler, Butch James, was, mettertyd weens dié oortredings gebrandmerk.
Die Lions se afrigtingspan probeer sover moontlik hul eie jong spelers deurbring en die hoof-afrigter, John Mitchell, is nie bang om groentjies aan Super-rugby bloot te stel nie.
Maar die huidige beseringskrisis is ongelukkig van so ’n aard dat hulp van buite nie uitgesluit kan word nie.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24