Ludik se afskop in Sharks-trui
2010-02-25 07:50
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Christo Buchner
Johannesburg - Louis Ludik maak Saterdag sy terugkeer tot rugby in ’n Vodacombeker-wedstryd vir die Sharks-vyftiental in Durban as nagereg vir die Sharks wat die oggend die Crusaders in die Super14-reeks in Christchurch pak.
Ludik het verlede jaar in die Goue Leeus se wedstryd op Coca-Colapark teen die Britse en Ierse Leeus sy knie ernstig beseer en herstel sedertdien ná ’n knie-operasie.
Vir dié begaafde heelagter en die Sharks smaak sy terugkeer tot die speelveld Saterdag soet.
Maar die Crusaders kan ná Saterdag se stryd ’n wrang smaak in die mond hê.
Hulle is nou nog ontsteld nadat die Reds hulle verlede week met 40-21 verkleineer het in die grootste opskudding van die eerste twee rondes in vanjaar se Super14-rugbyreeks.
Die tuisspan se All Blacks-losskakel, Dan Carter, sê hy het nog nooit ’n meer onbeholpe vertoning van die Crusaders gesien as teen die Reds nie.
“Ons is ’n trotse span en sal nie toelaat dat dit weer gebeur nie. Ons het onsself lelik in die steek gelaat en gaan alles in ons vermoë doen om te vergoed vir daardie vertoning. Ons is ’n veel beter span as wat daardie vertoning teen die Reds aangedui het,” het hy aan die Christchurch Press gesê.
Die Sharks, wat albei hul eerste wedstryde verloor het, kry boonop ook met die All Blacks-kaptein, Richie McCaw, te doen.
Hy begin wel op die plaasvervangersbank, maar sy afrigter, Todd Blackadder, sal hom waarskynlik speelkans gee. Die Sharks sal dus eerstehands uitvind hoe McCaw hom in sy eerste wedstryd dié seisoen by die nuwe afbreekpunt-reëls aanpas.
Nóg twee All Blacks, die slot Brad Thorn en die stut Wyatt Crockett, is ook terug. Thorn neem by Isaac Ross oor wat sy enkel in ’n oefening beseer het, terwyl Crockett vir Owen Franks vervang.
Jared Payne skuif van vleuel na heelagter in die plek van Colin Slade, wat aan Sean Maitland ’n kans op vleuel gee. Die senter Ryan Crotty het herstel van die harsingskudding wat hy in ’n voorseisoense wedstryd opgedoen het en Tim Bateman maak vir hom plek.
Die Crusaders se span is:
Jared Payne, Sean Maitland, Robbie Fruean, Ryan Crotty, Zac Guildford, Dan Carter, Andy Ellis, Thomas Waldrom, George Whitelock, Kieran Read (k), Brad Thorn, Sam Whitelock, Ben Franks, Ti’i Paulo, Wyatt Crockett. PLAASVERVANGERS: Quentin MacDonald, Owen Franks, Joe Wheeler, Richie McCaw, Kahn Fotuali’i, Adam Whitelock, Colin Slade.
Die Sharks-vyftiental teen die Bulldogs is:
Louis Ludik, Mark Richards, Jean Stemmet, Andries Strauss (k), Luzuko Vulindlu, Monty Dumond, Charl McLeod, Luvuyiso Lusaseni, Lambert Groenewald, Justin Downey, Alistair Hargreaves, Anton Bresler, Wiehahn Herbst, Kyle Cooper, Patric Cilliers. PLAASVERVANGERS: Hannes Snyman, Sabelo Nhlapo, Michael Rhodes, Skholiwe Ndlovu, Ross Cronjé, Jerome Pretorius, Chris Jordaan.
- Volksblad