Ludeke in noppies, dog Bulls lê nie slap
2010-04-12 07:25
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
J.J. Harmse
Pretoria - Dit gaan sommer baie goed in die Bulls-kamp, dankie.
Dié Super14-rugbyspan het twee dae rustig by die Gold Coast uitgespan, die stokswaaiers het op die prentjiemooi Pine Lakes-gholfbaan gaan voëltjies jag, die seer spiere is uitgevryf en die siele is verkwik deur ’n kerkdiens by te woon.
Maar belangriker nog, die afrigter is tevrede.
Dit beteken nie dat die harde werk minder sal word nie, verseker daardie afrigter, Frans Ludeke, aan Sport24.
“Ons het baie om voor dankbaar te wees. Die oorwinning (oor die Chiefs) in Hamilton was uitstekend en veral op die verdediging het ons weer goeie vordering gemaak.
“Dit is een aspek van ons spel wat onder die loep was, maar dit is weekliks besig om beter te word. Dit is lekker om te weet die werk op die oefenveld bring resultate in die wedstryd, want dit gee ook die spelers selfvertroue.”
Dit is weer skouer aan die wiel vandag, want die Bulls het op televisie gekyk hoe maklik die Reds deur die Lions gehardloop het. Dit was net die regte medisyne vir die besoekers, al dink hulle nog glad nie aan die puntelys aan die einde van die reeks nie.
“Ons het die naweek gesien dat die voorste aanspraakmakers almal hul stemme dik maak. Daar is dus nie ’n manier dat ons op ons louere kan rus nie, veral nie met so ’n Reds-span nie. Dié span speel uitstekende rugby,” het Ludeke gesê. Die breier behoort die naweek weer die dienste van Derick Kuün (flank) te hê, maar die senter Jaco Pretorius en dalk ook Jaco van der Westhuyzen (veelsydige agterspeler) kan die stryd teen die Reds in Brisbane misloop.
Ludeke het ook die goeie nuus gekry dat die Bok-vleuel Akona Ndungane sonder probleme die Vodacombeker-wedstryd teen die Welwitschias in Windhoek voltooi het.
Ndungane, Chiliboy Ralepelle (haker) en Bakkies Botha (slot) sal volgende Maandag saam met die terugkerende groep op Loftus Versfeld aanmeld.
- Die Burger