Lions wil skandes ‘uitwis’
2011-03-04 09:52
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Johannesburg - Die Blues gaan Vrydagaand met heelwat selfvertroue teen die Lions op Coca-Colapark opdraf omdat hulle die afgelope vier jaar die Gautengers se baas was in Super Rugby.
Maar wat die Blues dalk nie weet nie, is dat John Mitchell se Lions van ’n ander stoffasie as hul voorgangers is.
Die manne van Auckland het dalk van die ophef oor die Lions kennis geneem, maar watter besoekende span sal nie met selfvertroue op ’n veld uitdraf waar jy met jou laaste twee besoeke ’n vyftigtal aan punte behaal het nie?
Oor die afgelope vier jaar het die Blues die Lions elke keer stukkend gehardloop, maar dit was veral die wedstryde in Johannesburg waarin die Lions skandes gemaak het.
In 2008 het die Lions hier met 10-55 verloor en verlede jaar se nederlaag van 14-56 was omtrent die laagtepunt van Dick Muir se span se ineenstorting.
Dus is dit asof Mitchell en sy Lions van 2011 vanaand deur dié span se grootste vrees in die gesig gestaar word – ’n Blues-span vol All Blacks wat met krag en vaart nóg Lions-koppe in skaamte wil laat sak.
Van Lions-vrees was daar weliswaar nie sprake in die eerste twee weke van vanjaar se reeks nie toe die Lions naelskraap teen verlede jaar se twee finaliste verloor het.
Dit is hier waar die slaggat vir die Kiwi’s lê. Dalk neem hulle die Lions te ligtelik op, want enige span wat All Blacks soos Keven Mealamu, Anthony Boric, Daniel Braid en Rene Ranger skielik slegs as plaasvervangers benodig, loop oor van selfvertroue.
Mitchell weet hoe verwoestend die Blues kan wees en die Lions-breier het selfs erken dat sy span vanaand dalk avontuurlus op die aanval sal moet inboet om te seëvier.
“Ek dink nie aanval gaan dié wedstryd wen nie. Dit sal oor verdediging gaan en aanvalle sal dááruit voortspruit. As jy dink jy gaan die Blues met hul eie soort aanvallende rugby klop, is daar iets leliks op pad.”
Dit plaas die fokus vanaand op spesifieke spelers. Wanneer die Lions aanval, is manne soos Michael Killian en Elton Jantjies veral in die kollig. Wanneer die span se lakwerk die wa deur die drif moet trek, is die leisels in die flanke Derick Minnie en Josh Strauss en die senter Doppies la Grange se hande.
Beter stelskopwerk deur Jantjies is ook ’n vereiste as die Lions suksesvol wil wees.
* Die spanne is:
Lions: Jaco Taute, Lionel Mapoe, Waylon Murray, Doppies la Grange, Michael Killian, Elton Jantjies, Jano Vermaak, Warren Whiteley, Josh Strauss, Derick Minnie, Franco van der Merwe (k), Wikus van Heerden, Patric Cilliers, Bandise Maku, JC Janse van Rensburg. PLAASVERVANGERS: Martin Bezuidenhout, Kevin Buys, Dries van Schalkwyk, Cobus Grobbelaar, Rory Kockott, Burton Francis, James Kamana.
Blues: Isaia Toeava, Joe Rokocoko, Jared Payne, Benson Stanley, Sherwin Stowers, Luke McAlister, Alby Mathewson, Peter Saili, Luke Braid, Jerome Kaino (k), Ali Williams, Kurtis Haiu, John Afoa, Tom McCartney, Tony Woodcock. PLAASVERVANGERS: Keven Mealamu, Charlie Faumuina, Anthony Boric, Daniel Braid, Toby Morland, Stephen Brett, Rene Ranger.
Skeidsregter: Jonathan Kaplan.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24