Lions weer ramptoer af met ’n sege
2011-05-16 07:07
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Johannesburg – Ná drie maer maande tuis was ’n reis oorsee ’n noodsaaklikheid vir die Lions.
Dit is altans wat dié rugbyspan se afrigter, John Mitchell, geglo het.
Die algemene siening was dat ’n Lions-ramp hom op toer sou afspeel.
Maar heel duidelik het iets die span Doer Onder vlam laat vat en nou is dit teen alle verwagtinge in lekker in Australië.
Die Lions se lynstaanwerk, wat soms steeds eina was, was die enkele swakplek in dié span se bonuspuntsege van 29-20 in Saterdag se Super Rugby-wedstryd oor die Brumbies.
Agterna het die Brumbies-spelers se gesigte soos dié van begrafnisgangers gelyk, aangesien hulle geglo het hulle sou darem die Lions kon klop, ondanks hul eie gesukkel vanjaar.
Gee die Lions krediet, want ná hul swakste vertoning van die jaar verlede naweek teen die Cheetahs, het dié span iewers tussen Johannesburg en Canberra ’n kopskuif gemaak.
Die Lions se voorspelers het sake oorheers, Josh Strauss het as nuwe kaptein deur voorbeeld gelei en Elton Jantjies, 20-jarige losskakel wat vanweë sy gesukkel in dié reeks vroeër vanjaar op Coca-Colapark uitgejou is, het weer sy talent uitgestal.
’n Gelapte agterlyn, met Alwyn Hollenbach en Dylan des Fountain as senterpaar, het ’n ieder en ’n elk verras, terwyl die agttal met “donkiewerkers” soos Strauss, Derick Minnie en Wikus van Heerden op ’n eg Suid-Afrikaanse manier die oorhand gekry het.
Mitchell het agterna aan die webtuiste sportal.com.au gesê hy glo die sege is danksy goeie verdediging behaal.
“Ons het baie harder vir mekaar in die binneste kanaal gewerk.
“Ons was ontevrede met ons vertoning teen die Cheetahs en het besluit om ons doelwitte te verander toe ons na Australië vertrek het.
Die ouens het by ons doelwitte gehou en dit was verblydend.”
Mitchell het beklemtoon dat die Lions, in die afwesigheid van noemenswaardige sterspelers, ’n groot bydrae van elke speler op die veld benodig.
Saterdag was ’n goeie voorbeeld van toewyding in spanbelang.
Die afrigter was in sy noppies met Jantjies se vertoning – dit nogal op die dag dat die Bok-losskakel Butch James die eerste keer in die Lions se 22-tal was.
“Ek het baie tyd vir Elton en dink hy het ’n groot toekoms.
Ek wou nog altyd vertroue in hom stel en het hom in die eerste ses of sewe wedstryde kans gegee waarin hy ’n moeilike tyd beleef het.
“Dit was belangrik om hom weg te laat, hom ’n bietjie terug aarde toe te bring en hom hard aan sy spel te laat werk.
Duidelik het hy diep oor sy spel gaan dink.”
Mitchell moet vandeesweek besluit of hy Jantjies vir die kragmeting met die Waratahs in Sydney as losskakel gaan behou en of James ’n kans in die beginspan moet kry.
Puntemakers:
Lions 29 (12) : Drieë: Michael Rhodes, Deon van Rensburg, Alwyn Hollenbach, Jaco Taute. Doelskoppe: Elton Jantjies (3). Strafdoel: Jantjies.
Brumbies 20 (10) : Drieë: Stephen Moore, Andrew Smith. Doelskoppe: Matt Giteau (2). Strafdoele: Giteau (2).
– Sport24
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg