Lions stuur SOS aan Killian
2011-05-24 10:02
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Johannesburg - Die Lions is ook ’n Lionel kwyt.
Nadat die Stormers-toerspan in Australasië Vrydag hul jong losskakel, Lionel Cronjé, weens ’n besering verloor het, moes die Lions Maandag soortgelyke nuus oor hul jong vleuel Lionel Mapoe verwerk.
’n Gebreekte kakebeen het waarskynlik ’n einde aan Mapoe se Super Rugby-reeks gebring nadat hy Saterdag in die nederlaag teen die Waratahs in Sydney van die veld gedra is.
Mapoe het hom ná slegs 10 minute se spel teen die Waratahs-senter Ryan Cross se elmboog disnis geloop. Dit was maar net die begin van die Lions se vleuel-teëspoed in die wedstryd, want oomblikke later het hul ander vleuel, Deon van Rensburg, op ’n omstrede wyse tyd in die koelkas deurbring.
Die Lions se spanbestuurder, Mustapha Boomgaard, het Mapoe se plaasvervanger Maandag op die lughawe in Auckland, Nieu-Seeland, gaan haal.
Dit is Michael Killian, wat ’n lid van die toergroep sou wees voordat ’n dyspierbesering hom platgetrek het.
Die besering is ’n terugslag vir Mapoe – een van die min Lions-spelers wat ’n kans staan om ’n plek in die Springbokke se Wêreldbeker-groep later vanjaar oop te speel.
Soos die Lions in Sydney gespeel het, sal nie een van hulle naby die groep kom nie.
Drie wedstryde bly vir hulle oor om die Bok-keurders te beïndruk en om die nodige groei te toon wat die Lions-breier, John Mitchell, van hulle verwag.
Saterdag se wedstryd in Dunedin teen die Highlanders is die volgende struikelblok waarvoor veral die Lions-agttal gerat moet wees.
Die Highlanders het lanklaas só naby aan ’n plek in die uitklopronde van die reeks gekom en die manne sal hulself nie vergewe as die droom deur die span onderaan die puntelys verydel word nie.
Boonop het die Highlanders die naweek ’n loslootjie gehad.
* Intussen het Manie Reyneke, uitvoerende hoof van die GLRU, gesê hy het nog geen antwoord ontvang oor die moontlike terugkeer van die Stormers- en Westelike Provinsie-slot Anton van Zyl na die Leeus nie.
Dit lyk dus nie of daar waarheid steek in gerugte dat sterk mededinging op ’n plek in die Stormers- en WP-spanne Van Zyl kan laat dink om in die Curriebeker-reeks weer vir die Leeus te speel nie.
Van Zyl was boonop Saterdag in die Stormers se 22-tal wat die Blues in Auckland met 28-26 geklop het.
Daar was ook sprake dat ’n voormalige Springbok-slot, Marco Wentzel, ’n Leeu sou word nadat hy verlede week sy kontrak met Leeds Carnegie in Engeland beëindig het.
Wentzel (32) was Leeds se kaptein en het ook voorheen met groot sukses vir die Leicester Tigers uitgedraf.
Leeds het egter nie relegasie in die Engelse Premierliga vrygespring nie en Wentzel is toegelaat om groener weivelde te soek.
Volgens Reyneke sal dié weivelde, ondanks onderhandelings tussen Wentzel en die GLRU, nie in Johannesburg wees nie.
Volgens berigte Maandag het Wentzel hom by nog ’n Engelse klub, London Wasps, aangesluit.
Aanwinste om die die Leeus se vaste voorspelers te versterk, is bo-aan die GLRU se prioriteitslys.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24