Lions loer na Bakkies
2011-02-09 15:12
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Johannesburg - Die Goue Leeus rugbyunie (GLRU) teiken glo die handtekening van Springbok-slot Bakkies Botha as hul volgende groot vangs vir 2012.
Botha se kontrak met die Bulls verstryk einde Oktober en daar was bespiegel dat hy 'n kontrak met die Franse klub Toulon sou sluit.
Maar bronne in Frankryk het bevestig dat Toulon van hul planne afgesien het nadat die Bok-slot gesê het hy wil sy loopbaan in Suid-Afrika afsluit.
Die Bulls het nog nie met hom gesels oor die hernuwing van sy kontrak nie, deels omdat Botha aangedui het dat hy nie belangstel om dit te hernu nie.
Hy is ook deel van 'n klein groepie Springbokke insluitend Fourie du Preez, Danie Rossouw en Victor Matfield, wat aangedui het dat hulle na vanjaar se Wêreldbeker in Nieu-Seeland die stewels gaan ophang.
Met Butch James nou 'n Lion en onderhandelinge wat steeds met Frans Steyn en BJ Botha gevoer word, het die Gautengse span geen geheim daarvan gemaak dat hulle ook na 'n ervare slot soek om die span 'n hupstoot te gee nie.
Die GLRU het aanvanklik na Andries Bekker gevry, maar dié Stormer het gesê hy is gelukkig in die Kaap en wil bly waar hy is.
Die Bulls het privaat erken dat Botha genader is. Maar toe uitvoerende hoof Barend van Graan Woensdag daaroor gepols is, het hy gesê hy het nog "niks amptelik gehoor nie en kan daarom nie kommentaar oor die aangeleentheid lewer nie.
Die Lions se uitvoerende hoof Manie Reyneke wou ook niks sê nie. En nie Botha of sy agent was beskikbaar vir kommentaar nie.
Een van die Lions se beleggers, Ivor Ichikowitz, het die gerugte ontken.
"Sover ek weet is die gerugte onwaar," het Ichikowitz in 'n sms-boodskap gesê.