Lions kies twee baljagters
2011-03-25 09:20
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Johannesburg - Cobus (Baywatch) Grobbelaar is die eerste keer onder die afrigting van John Mitchell in die beginspan as een van twee baljagters waarmee die Lions die Bulls Saterdag die stryd aansê.
Grobbelaar en sy flankmaat, Derick Minnie, gaan hul fokus op die afbreekpunte op Loftus Versfeld instel.
Josh Strauss is weggelaat om vir Grobbelaar plek te maak, maar kan later in die Super Rugby-wedstryd as baldraer ’n impak maak
Grobbelaar, die span se vorige kaptein, het Mitchell se oorname van die span se afrigting – in verlede jaar se Curriebeker-reeks – weens ’n skoueroperasie misgeloop.
Intussen het Grobbelaar herstel, maar Mitchell het hom tot dusver met vrug as plaasvervanger gebruik en Minnie as baljagter verkies.
Vandeesweek word Minnie en Grobbelaar saam losgelaat.
“Wanneer ons verdedig, sal dit (twee baljagters) uiteraard ’n voordeel wees. Maar ons wil ook meer ambisieus in ons aanvalle as teen die Force wees en ’n hoëtempo-wedstryd speel. In daardie opsig sal ons ook baat vind daarby,” het Mitchell gesê.
Grobbelaar se insluiting is een van altesaam vyf veranderings aan die Lions se beginspan wat teen die Force teleurgestel het.
Die harde agterspeler Deon van Rensburg is as linkervleuel gekies, met Michael Killian wat van vleuel na heelagter in Jaco Taute se plek skuif.
Mitchell wil die aanvallende Killian juis teen die Bulls as heelagter loslaat om ’n soortgelyke impak met teenaanvalle te maak as wat die Nieu-Seelander James Kamana in dié twee spanne se vroeëre ontmoeting op Coca-Colapark gemaak het.
Nog veranderings aan die Lions se agterlyn is die terugkeer van Jano Vermaak (skrumskakel) en Doppies la Grange (binnesenter) ten koste van Rory Kockott en Jannie Boshoff.
Vermaak en La Grange is die laaste weke weens ligte beserings ’n ruskans gegun.
’n Liesbesering hou die slot Wikus van Heerden uit die wedstryd en sy plaasvervanger is die Goue Leeus se Vodacombeker-kaptein, David Bulbring (21).
Mitchell het enkele plaasvervangers na die Vodacombeker-span vir 80 minute se speelkans gestuur.
Die oud-Bok André Pretorius tel onder die nuwe Lions-plaasvervangers, asook Edgar Marutlulle (haker) en Jacobie Adriaanse (stut), wat hul Super Rugby-buigings teen die Bulls behoort te maak.
* Die Lions-span is: Michael Killian, Lionel Mapoe, Waylon Murray, Doppies la Grange, Deon van Rensburg, Elton Jantjies, Jano Vermaak, Warren Whiteley, Derick Minnie, Cobus Grobbelaar, Franco van der Merwe (k), David Bulbring, Patric Cilliers, Bandise Maku, JC Janse van Rensburg
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24