Lions het huppel in stap ná sege
2011-03-14 09:08
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Bloemfontein - Geld maak dalk nie dadelik reg wat krom is nie, maar wanneer langtermyn-beleggings ’n wins begin lewer, laat dit enige sakeman in die Goudstad breed glimlag.
Net so sal Lions-ondersteuners vandeesweek ’n huppel in hul stap hê nadat hul span Saterdag hier sy eerste sege in Superrugby in sowat twee jaar behaal het.
Die besoekers het – soos hul ondersteuners sedert hul span se laaste sege in Mei 2009 moes doen – vasgebyt om hul wendroogte met 25-20 oor die Cheetahs in die Vrystaat-stadion te breek.
“Ons het nog altyd in onsself geglo. Dit het maar net daaroor gegaan om vas te byt en deur te druk – soos ons in die wedstryd teen die Cheetahs met ’n geelkaart teen ons moes doen.
“Dié sege is ’n goeie teken. Ons sal dit vir seker geniet,” het John Mitchell, afrigter van die Lions, gesê.
Ná 17 agtereenvolgende nederlae voor dié sege is dit te vroeg om àla Robert Gumede, die Lions se aandeelhouer met die tjekboek, die sogenaamde Manchester United-era in te lui, maar die Lions het beslis opgestaan.
En ’n oorwinning hoef boonop nie altyd mooi te wees nie, meen Mitchell.
“Dit was ’n goeie vertoning. Partykeer moet jy ook kragmetings op ’n onaanskoulike wyse wen.
“Ons het by tye wel baie geleenthede gehad, maar kon eenvoudig net nie afrond nie.”
“Ons is ’n span wat teen enigiemand vier drieë kan druk. Ons groei in leierskap en selfvertroue.
“Ons is ambisieus en glo in dit wat ons doen.
“Ook skopwerk na die pale en verdediging is baie belangrik in Super Rugby en dit het ons teen die Cheetahs gesien.”
Die Lions-strydros Wikus van Heerden meen die vier ligapunte is welverdiend.
“Die tekens vir ’n sege was al lankal daar. Dis lekker om dit teen die Cheetahs te behaal. Ons is besig om van krag tot krag te gaan.”
Hoewel hy twee doelskoppe verbrou het, het die losskakel, Elton Jantjies, nadat hy in die eerste paar weke onder die druk gesukkel het, sy toets met die skopskoen geslaag.
“Jong stelskoppers het nodig om druk-situasies soos Elton se laaste strafdoel te ervaar.
“Dit sal beslis vir hom baie beteken. Hy sal hom nog baie in sy loopbaan in sulke situasies bevind en hopelik sal hy dit weer kan regkry,” het Mitchell gesê.
Volgens dié breier het sy Kiwi-heelagter, James Kamana, ook meer as sy deel gedoen.
“James het beslis ’n groot bydrae gelewer.
“Hy het die vermoë om teenstanders op die aanval te klop en bring ’n goeie energie na die span.
“Jaco (Taute) en hy is twee verskillende spelers. Dit was maar ’n moeilike besluit om tussen hulle te kies,” het Mitchell gesê.
Die Lions kom Saterdag in Johannesburg teen Mitchell se gewese span, die Western Force, te staan.
Vir die jongste sportnuus, volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24