'Lions het genoeg gesien om te glo hulle kán'
2011-03-23 09:12
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Johannesburg - Slegs 33 dae gelede het verlede jaar se slaansak in die Super Rugby-reeks so byna met die kampioen afgereken.
Saterdag word dié spanne, die Lions en die Bulls, die eerste spanne om volgens die nuwe Super Rugby-formaat ’n tweede ligawedstryd teen mekaar speel.
Die tweestryd op Loftus Versfeld kom op ’n tyd wat wen ’n noodsaaklikheid vir albei geword het.
Sedert die vorige Jukskeirivier-derby het die Lions drie wedstryde en die Bulls twee wedstryde verloor en albei was die naweek aan die ontvangkant.
Wat die spanne van 33 dae gelede sal onthou, is hoe uiteenlopend die helftes was.
In die eerste helfte het die Bulls eentonig oorheers en ’n groot voorsprong opgebou.
Ná rustyd het die Lions sonder ophou aangeval en so byna die Bulls se voorsprong uitgewis.
Volgens Johan Ackermann, voorspeler-afrigter van die Lions, was die aanduidings in die vorige Gautengse derby daar dat die Lions die Bulls kán troef.
“Ons gee onsself altyd ’n goeie kans en ons wil wen en kompeterend wees.
“Die Bulls is steeds ’n skitterende span vol Springbokke en die wedstryd is op Loftus.
“Maar ek dink tog ons het genoeg gesien (in die vorige wedstryd) om te glo ons kan wen,” het Ackermann gesê.
Vir dié oud-Bok sou dit verblydend gewees het dat sy span in die vorige kragmeting met die Bulls byna 62% balbesit bewerkstellig het.
Maar dit help nie veel as jy dan steeds verloor nie.
Die Lions was sover telkens daaraan skuldig dat hulle nie hul balbesit in die nodige punte omskakel nie en afronding sal op Loftus deurslaggewend wees.
Dit was nie net teen die Bulls wat die Lions die groter hoeveelheid balbesit gehad het nie.
Hulle het ook meer bal teen die Stormers (54%), Blues (62%) en die Force (51%) gesien, maar teen al drie teenstanders verloor.
Hulle het wel hul 55%-balbesit teen die Cheetahs laat geld en die wedstryd gewen.
Wat die statistieke egter ook aandui, is die reëlmaat waarmee spanne wedstryde op grond van doeltreffende verdediging kan wen.
Tog sal die Lions onthou dat hulle in al hul nederlae sover op ’n tydstip in die wedstryde versuim het om aanval ná aanval in drieë om te skakel.
Volgens Ackermann was dit teen die Force duidelik dat sy span, selfs nadat hy die voorsprong verkry het, met kritieke foute die momentum verloor het.
“Dit was teleurstellend. ’n Mens verwag seker maar om iewers weer ’n afwaartse kurwe te hê, maar ons het nie gedink dit sal ná ’n oorwinning (oor die Cheetahs) gebeur nie.
“Dit wys maar net hoeveel werk daar nog met dié groep spelers voorlê alvorens hulle week ná week presteer.”
Nou het die Lions die Bulls in hul visier en dit is nie eens nodig om te sê hoeveel ’n sege op Loftus vir die Lions sal beteken nie.
“Maar die Bulls is gewond, dit maak hulle gevaarlik. Ons sal as ’n span baie akkuraat moet wees,” het Ackermann gesê.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24