Lions-breier steur hom nie aan druk
2011-02-14 08:19
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Johannesburg - Die Lions gaan hul eerste Super Rugby-wedstryd – Saterdag hier op Coca-Colapark teen die Bulls – onder geweldige druk tegemoet.
Nie sedert die dae van Francois Pienaar se Leeus in die negentigs was daar al so ’n groot ophef oor ’n span uit die geweste nie.
Die meeste dinge het die laaste maande ten goede vir die Goue Leeus Rugbyunie verander met grafieke vir inkomste, spelerbronne, afrigters en ondersteunersgetalle wat opwaarts geskiet het.
Gevolglik is daar hoër verwagtinge en daarom neem die druk om beter te presteer ook kwaai toe.
Om alles te kroon, begin die Lions-span sy eerste wedstryd teen sy gehate buurman, wat oor die laaste jare ’n veel luukser lewe as hy gelei het en boonop die kampioen is.
John Mitchell, afrigter van die Lions, glo sy span bly ondanks sulke buitefaktore gefokus op sy taak om die Bulls te klop.
“Ek dink die druk kom, met alle respek gesê, hoofsaaklik van die media af.
“Daarom word die verlede weer opgehaal, maar ons moet dit probeer hanteer.
“Ons sal by ons eie planne hou en dit gaan belangrik wees om vanjaar die naelbytstryde te wen.
“Ons moet ons gedagtes in die hede hou en op die taak fokus. En dan wil ons dit tussendeur geniet ook,” sê Mitchell.
Hoe genotvol die wedstryd gaan wees, is nog ’n ope vraag. Die algemene mening is dat daar ’n rillerstryd wag tussen ’n erkende rugbyreus en ’n ontwakende rugbyreus.
“Dit is belangrik om goed te begin ter wille van momentum in die reeks. Ons prioriteit is om die Bulls-wedstryd te wen en daarmee sal die momentum kom,” sê Mitchell.
Dit is ook maar goed dat Mitchell hom nie aan die verlede en buitefaktore steur nie.
Een daarvan is die vernederende rekord vir die meeste agtereenvolgende nederlae in Super Rugby waarvan die Lions steeds nie ontslae is nie.
Sedert Mei 2009 het die Lions 14 agtereenvolgende nederlae in die reeks gely en Saterdag sal hulle ten alle koste wil vermy dat dit 15 nederlae word.
Dit is baie gevra om dit teen die Bulls te doen, al is daar ’n gevoel dat dié Bulls-span se beste jare straks agter hom lê.
Mitchell lig ook ’n interessante punt uit wanneer hy oor die bedreiging van die Bulls se towenaar-skoppers Fourie du Preez en Morné Steyn uitgevra word. Die verwagting sou wees dat die twee oudergewoonte met taktiese skopwerk druk op die jong Lions se agterspelers soos die heelagter Jaco Taute sal plaas.
“Met die aangepaste reëls by die afbreekpunte word ’n span weens speltempo en druk nie altyd toegelaat om so akkuraat te skop soos met die vorige reëls nie.” sê Mitchell.”
“Eindelik moet ons net glo ons is so goed soos ek weet ons is en dan vorentoe beweeg en dit geniet.
“Almal fokus nou net op die Bulls, maar dit is ’n lang reis wat voorlê.”
* ’n Moontlike Lions-span is: Jaco Taute, Lionel Mapoe, Waylon Murray, Doppies la Grange, Michael Killian, Elton Jantjies, Jano Vermaak, Warren Whiteley, Josh Strauss, Derick Minnie, Franco van der Merwe (k), George Earle, Patric Cilliers, Bandise Maku, JC Janse van Rensburg.
* Intussen het die Stormers se Super-veldtog ’n reuse-terugslag gekry toe die haker Tiaan Liebenberg ná net meer as ’n halfuur se spel in Saterdag se sege van 34-6 oor die Boland mediale knieligamente beseer het.
Hy sal na verwagting agt tot nege weke buite aksie wees en sal al die Stormers se tuiswedstryde misloop.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24