Lionel se Bulls-debuut; as nr. 12
2012-02-01 10:03
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Pretoria. – Twee van die Bulls se Kaapse aanwinste maak Saterdag in Port Elizabeth hul debuut vir dié noordelike streekspan.
Maar waar JJ Engelbrecht nie net gemaklik gaan voel in die stad waar hy skoolgegaan het én op linkervleuel nie, moet Lionel Cronjé sý eerste verskyning vir die Bulls as binnesenter teen die Kings maak.
Frans Ludeke, Bulls-afrigter, het sy woord gestand gedoen en die meeste van sy eerstekeuse-spelers buite rekening gelaat vir dié verpligte vriendskaplike wedstryd, maar duidelik lesse uit verlede jaar se nederlaag in die ooreenstemmende wedstryd geleer.
Hy het drie sleutelspelers met hope Super-ervaring ingesluit met Jano Vermaak, Wilhelm Steenkamp en Willie Wepener wat sal uitdraf.
Steenkamp sal die span aanvoer.
Die wedstryd gaan ’n belangrike een vir Ludeke wees, want verskeie van dié spelers gaan iewers deur die loop van die seisoen hul kant moet bring.
’n Goeie vertoning in die Nelson Mandelabaai-stadion sal ook vroeg gemoedsrus bring.
Die Bulls het Dinsdag aangekondig dat Jacques Potgieter beseer is en dus nie teen sy ou spanmaats gaan uitdraf nie, maar desondanks spog die span met ’n lostrio waaroor enige span sal kwyl.
Arno Botha en Jean Cook was verlede seisoen Jong Bokkies by die Junior Wêreldbeker-toernooi en CJ Stander het die vorige jaar daardie einste span by die einste toernooi aangevoer.
Ludeke probeer duidelik ook ’n paar proefnemings maak met Ulrich Beyers wat as senter saam met Cronjé uitdraf.
Louis Fouché het vir eers die regmerkie op losskakel en die Keniaan Daniel Adongo gaan as troefspeler sy kant bring.
Die Bulls se span is:
Jurgen Visser, Sampie Mastriet, Ulrich Beyers, Lionel Cronjé, JJ Engelbrecht, Louis Fouché, Jano Vermaak, CJ Stander, Arno Botha, Jean Cook, Wilhelm Steenkamp (k), Gerrit-Jan van Vélze, Frik Kirsten, Willie Wepener, Dawie Steyn.
PLAASVERVANGERS: Bongani Mbonambi, Louis Alberts, Daniel Adonga, Franco Mostert, Cornell Hess, Ruan Snyman, Francois Venter/ Courtnall Skosan, Adri Jacobs, Clayton Blommetjies.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24