Lambie terug vir Sharks
2011-04-21 19:00
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Durban - Die losskakel Patrick Lambie keer ná ‘n besering terug na die Sharks-span vir dié se Super Rugby-wedstryd teen die Hurricanes Saterdagaand in Durban.
Die 20-jarige speler het die Sharks se laaste drie wedstryde misgeloop nadat hy sy vinger gebreek het in sy span se kragmeting met die Chiefs.
Lambie het die afgelope week weer begin oefen en is onmiddellik in die begin-vyftiental ingesluit in die plek van Jacques-Louis Potgieter.
Die kookwater-haker Bismarck du Plessis kon intussen nie betyds van ‘n skouerbesering herstel nie en is uit die 22-tal, wat Donderdag aangekondig is, gelaat.
John Smit, kaptein, sal dus sy eerste wedstryd van die seisoen op haker begin – iets waarvoor die Springbok-afrigter, Peter de Villiers, al lank pleit. Craig Burden is as plaasvervanger-haker ingesluit.
Ross Skeate draf op slot uit – iets wat hy nog selde kon doen in sy besering-geteisterde loopbaan by die Sharks. Sy bevordering na die begin-vyftiental beteken Gerhard Mostert skuif af na die plaasvervangerbank.
Jacques Botes kry ook speelkans in die plek van Keegan Daniel op flank, terwyl Lwazi Mvovo vir Odwa Ndungane op vleuel vervang.
Die Sharks-span is: Tendai Mtawarira, John Smit (kapt), Eugene van Staden, Steven Sykes, Ross Skeate, Jacques Botes, Willem Alberts, Ryan Kankowski, Charl McLeod, Patrick Lambie, Lwazi Mvovo, Meyer Bosman, Stefan Terblanche, JP Pietersen, Louis Ludik.
Plaasvervangers: Craig Burden, Jannie du Plessis, Gerhard Mostert, Keegan Daniel, Conrad Hoffmann, Adrian Jacobs, Odwa Ndungane.
- Vir die jongste sportnuus, volg Nuus24Sport op Twitter
- SAPA