Krisis in Bulls-kraal
2011-05-25 09:11
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Pretoria - Die Bulls is enkeldiep in die moeilikheid en het ’n skrumskakel-krisis voor hul Super Rugby-wedstryd Saterdag teen die Cheetahs.
Nadat hul nommer een in dié posisie, Fourie du Preez, Maandag gehoor het dat hy minstens vier weke nie kan rugby speel nie, is sy logiese plaasvervanger, die Springbok Francois Hougaard, Dinsdag hier deur ’n enkelbesering platgetrek.
Hougaard het die enkel beseer terwyl die Bulls aan die slyp was vir die Cheetahs-wedstryd, een wat hulle móét wen as hulle die kleinerige kans op ’n plek in die kwarteindronde in die reeks wil lewend hou.
Sonder Du Preez, die beste skrumskakel ter wêreld, het daardie kans verskraal en as hulle boonop Hougaard, straks die naasbeste in die land, ook moet verloor, gaan dit ’n ernstige duik in hul aanslag maak.
Dit laat die Bulls net met een fikse skrumskakel, Dustin Jinka, en daar is behoorlik geskarrel om seker te maak ’n waardige plaasvervanger is beskikbaar.
Jinka is boonop nie eens die Bulls se derdekeuse-skrumskakel nie, met Ruan Snyman, wat hul voorkeur-speler in die Vodacombeker-reeks was.
Snyman self sukkel met ’n seer lies en het reeds mediese advies gekry om ’n operasie te ondergaan.
Dit kan die Bulls noop om Lohan Jacobs, ’n nasionale o.20-skrumskakel, in te span.
Wie ook al die nr. 9-trui in Du Preez en Hougaard se (waarskynlike) afwesigheid gaan dra, kry boonop te doen met Sarel Pretorius, die witwarm Cheetahs-speler wat ook die voorste driedrukker in die land is.
Die Bulls-afrigter, Frans Ludeke, was steeds kalm ondanks die dreigende krisis wat hom in die gesig staar.
“Kom ons wag maar eers om te kyk hoe ernstig is Hougie se besering. Ons het nou al gesien hoe enkelbeserings dikwels erger lyk as wat dit is.
“Gelukkig is dit nie die enkel wat hom vroeër van die veld gehou het nie, ” het die Bulls-afrigter sy moontlike krisis probeer ontlont.
Die naam van Ruan Pienaar moet noodwendig in dié gesprek intree, maar volgens Ludeke het daardie gesprekke waaroor Sport24 vroeër vandeesmaand berig het, op niks uitgeloop nie.
Gelukkig het Ludeke nie enige ander probleme as dit kom by span kies nie.
Hy sal wel tussen Danie Rossouw en Dewald Potgieter as seweflank moet kies.
Rossouw het die laaste twee wedstryde daar geskitter, maar Potgieter vorm ’n bewese lostrio saam met Deon Stegmann en Pierre Spies.
Hy het weens ’n seer enkel nie in die laaste twee wedstryde begin nie en Rossouw het sy kans behoorlik aangegryp.
“Die spelers het almal ingekoop in die groepstelsel en besef dat sekere spelers nie elke wedstryd kan begin nie, so wat ek ook al besluit, sal gelukkig nie probleme veroorsaak nie,” het Ludeke gesê.
Dit wil ook lyk of Ludeke aan Akona Ndungane sy tweede beginkans vanjaar gaan gee. Ndungane het teen die Chiefs in Bjorn Basson se plek uitgedraf en skitterend gespeel.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24