Kophou, Sharks
2011-03-11 08:39
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Melbourne - Met watter Rebels gaan die Sharks Vrydag in Melbourne te doen kry?
Gaan dit die span wees wat maar flouerig was in die twee wedstryde wat hy verloor het, of die een wat sommer al in sy tweede wedstryd teen die Brumbies gewys het hy is in staat om ’n groot verrassing te lewer?
Oorgerustheid kan egter in hierdie Super Rugby-wedstryd die grootste teenstander van John Smit se Sharks wees.
Ná die goeie begin op hul oorsese toer teen die Force, sal dit ’n sonde wees as die Sharks nou die voet van die pedaal neem.
Daarom moet hulle vandat die fluitjie die eerste keer geblaas het inklimrugby speel en sommer gou-gou vir die Rebels wys wie is baas.
Die nuwe Aussie-span moenie die kans gegun word om sy tande in die wedstryd in te slaan en selfvertroue te kry nie.
Daar sal heelwat twyfel in die manne van Melbourne se gemoed wees ná hul op- en afwaartse kurwe. En as hulle gou op die agtervoet gekry kan word, sal dit die lewe vir die Sharks soveel makliker maak.
Daarom moet Smit, kaptein van die Sharks, dit by sy spelers inprent dat hulle hul stempel baie vinnig moet afdruk.
Die Rebels het baie goeie individuele spelers, maar hulle sukkel nog om as ’n eenheid te funksioneer.
Dis nie ’n probleem wat die Sharks het nie. Hul sterkpunt is dat hulle mekaar goed aanvul en met uitmuntende samespel bewegings lewend hou.
Die KwaZulu-Natallers se agttal behoort sake te oorheers, wat vir hul flinke skakelpaar, Charl McLeod en Patrick Lambie, weer oorgenoeg aanvalsgeleenthede sal bied.
- Die SA o.20-agtsteman Marcell Coetzee sal hom by die Sharks aansluit vir die tweede deel van hul Australasiese toer.
Hy was nog twee jaar gelede op die skoolbanke, toe hy die Hoërskool Port Natal se eerste span tot 22 agtereenvolgende oorwinnings aangevoer het.
In sy twee Vodacombeker-wedstryde hierdie seisoen was hy in albei die speler van die wedstryd.
Die spanne is:
Rebels: Mark Gerrard, Lachlan Mitchell, Stirling Mortlock (k), Julian Huxley, Cooper Vuna, Danny Cipriani, Nick Phipps, Gareth Delve, Michael Lipman, Jarrod Saffy, Kevin O’Neill, Alister Campbell, Greg Somerville, Ged Robinson, Nic Henderson.
PLAASVERVANGERS: Heath Tessman, Laurie Weeks, Hugh Pyle, Tim Davidson, Richard Kingi, Afusipa Taumoepeau, Luke Rooney.
Sharks: Louis Ludik, Odwa Ndungane, Stefan Terblanche, Meyer Bosman, Lwazi Mvovo, Patrick Lambie, Charl McLeod, Ryan Kankowski, Willem Alberts, Keegan Daniel, Alistair Hargreaves, Steven Sykes, John Smit (k), Bismarck du Plessis, Beast Mtawarira.
PLAASVERVANGERS: Craig Burden, Jannie du Plessis, Anton Bresler, Jacques Botes, Conrad Hoffmann, Jacques-Louis Potgieter, Adrian Jacobs.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24