Kirchner teen Taute geweeg
2012-04-11 09:01
In-diepte Verslae
Die Kings het aangekondig dat hul vaardigheidsafrigter, Brad Mooar, die span weens persoonlike redes verlaat het en op pad terug is na Nieu-Seeland.
Die Cheetahs se afrigter, Naka Drotské, het die versoeking weerstaan om Heinrich Brüssow in die 15-tal te kies vir die stryd teen die Higlanders.
Pretoria – Die uitstekende spelpeil van die Bulls se Zane Kirchner kom Saterdag onder die loep wanneer dit opgeweeg word teen nóg een van die land se opwindendste heelagters, Jaco Taute.
Die 27-jarige Kirchner se teenaanvalle, puik skopwerk en samespel met die vleuels, Bjorn Basson en Akona Ndungane, het die Bulls tot dusver heelwat lyf op die aanval gegee. Kirchner se drie drieë tot dusver in die reeks is nie te versmaai nie.
Dit het sy totaal nou reeds op 17 drieë (in 60 wedstryde) te staan gebring, nie te sleg vir iemand wat gereeld daarvan beskuldig word dat hy ’n veilige, eerder as aanvallende heelagter is nie.
Sy vermoë om saam met veral Basson en Ndungane teenstanders onder geweldige druk te plaas met hul hangskoppe, het ’n belangrike deel van die Bulls se teenaanval-patroon geword – en iets wat Saterdagaand op Coca-Colapark sekerlik weer deel van die besoekers se mondering gaan wees.
Kirchner hou boonop van die Lions se veld.
Hy het nie net sy toetsdebuut dáár vir die Springbokke teen die Britse en Ierse Leeus gemaak nie; sy laaste Super-besoek daar het in ’n sege van 24-20 vir die Bulls geëindig.
Kirchner het ’n drie in dié sege gedruk en was sedert sy debuut in 2008 nog nooit aan die verloorkant teen die Lions nie.
Sy direkte teenstander, Taute, word deur talle as ’n toekomstige Springbok beskou en die nuwe Bok-afrigter, Heyneke Meyer, het ook sy regmerkie vir die jongeling se spel gegee, hoewel hy meen Taute kan as buitesenter ook groot sukses behaal.
’n Stewige vertoning deur Taute, veral onder die verwagte stortvloed lugskoppe wat via Kirchner, Morné Steyn en Francois Hougaard se skopvoet gaan kom, kan sy aandele op die regte plekke laat styg.
Steyn en Hougaard lê meestal uit eerstefase-spel die skoen in, met Kirchner wat die hoogskop-en-storm op die teenaanval tot ’n fyn kuns vervolmaak het.
Die Bulls-afrigter, Frans Ludeke, het gister gehoor dat Deon Stegmann beslis volgende week weer sal speel.
Hy gaan dus nie kanse waag om Stegmann dié week terug te bring nie, ondanks die waarde wat ’n baljagter teen die Lions se vloeiende spel kan hê.
Ludeke sal dus nie veel aan sy span peuter nie.
Hy kan dalk een of twee spelers ’n ruskans gee of roteer.
Wilhelm Steenkamp behoort in Flip van der Merwe of Juandré Kruger se plek te speel, terwyl Ludeke agterlangs vir Francois Venter of JJ Engelbrecht speelkans kan gee.
Die spilpunt van Steyn en Olivier gaan ’n belangrike een wees vir die Bulls en daar kan eerder verwag word dat Engelbrecht dalk rolle met sy groot vriend, Johann Sadie, kan ruil.
Sadie het nog nie enige vuurwerk gelewer sedert hy van sy besering af teruggekeer het nie – en deur hom vry te laat wanneer daar meer ruimte is, kan dalk net die doepa wees wat dié begaafde driekwart nodig het om weer te begin blom.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24