Kings lugtig vir Cheetahs
2011-02-04 10:00
In-diepte Verslae
Allister Coetzee, wat uit verskeie oorde gekritiseer is oor Jebb Sinclair se insluiting, het sy soektog na 'n oorsese losvoorspeler laat vaar.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Port Elizabeth - Daar wag vanaand (Vrydagaand) ’n baie groter toets op die rugbyspan van die Southern Kings teen die Cheetahs as verlede week teen ’n verswakte Bulls-span.
’n Paar topspelers van die Cheetahs en die Kings is weens beserings buite aksie. Tog sal die besoekers met ’n lekker sterk span vir dié opwarmwedstryd in die Nelson Mandelabaai-stadion uitdraf.
“Ek verwag dat die Cheetahs ons op ’n ander manier as die Bulls sal toets,” sê die Kings se afrigter, Alan Solomons. “Hulle hou daarvan om met die die bal te hardloop.
”Maar dit sal dalk nie gebeur nie, want die weerburo het reën vir die Baai voorspel.
In só ’n geval sal die voorspelers en die onderskeie spanne se taktiese skoppers ’n groter rol speel.
In dié afdelings lyk die Cheetahs goed toegerus. WP Nel en Coenie Oosthuizen kan die grondslag vir die besoekers se aanslag in die vaste skrums help lê.
Naas Olivier, die Cheetahs se losskakel, is ook ervare en kan enige span moedeloos skop.
Solomons is ook nie sonder rede lugtig vir die Cheetahs se dryfspel nie. “Ek dink Juan Smith (Cheetahs-kaptein) is die beste speler in sy posisie ter wêreld. Hy is ’n inspirerende speler en leier.
”Smith maak saam met die geharde Frans Viljoen en die knaende Kabamba Floors ’n gedugte lostrio uit. Rory Duncan, die tuisspan se kaptein, het vandeesweek sy skouers opgehaal toe hy oor die Cheetahs se agttal gepols is. “Ons het darem self ook ’n skaflike pak.
”Dit is waar. Daar is wel nie ’n Springbok tussen die Kings se voorspelers nie – Mpho Mbiyozo was darem ’n Blitsbok – maar dié manne is nie skaam om in te klim nie.
Albei spanne sal na verwagting ook verskeie plaasvervangers ’n kans gee om te speel, wat die vloei van die spel kan belemmer.
Dit is egter waarom daar opwarmwedstryde is en die onderskeie afrigters soek antwoorde voordat die seisoen in alle erns begin.
Die spanne is:
Southern Kings: SP Marais, Paul Perez, Siyanda Grey, Matthew Tayler-Smith, Norman Nelson, Monty Dumond, Jacques Coetzee, Darron Nell, Mpho Mbiyozo, Devin Oosthuizen, Ross Kennedy, Rory Duncan (k), André Schlechter, Hannes Franklin, Jaco Engels. PLAASVERVANGERS: Frank Herne, Ronnie Uys, Lungelo Payi, Boetie Brits, Boela Abrahams, Jaco van Schalkwyk, Milo Nqoro, Sphephelo Mayaba, Nolan Clark, Morné Hanekom, Shane Gates.
Cheetahs: Hennie Daniller, Philip Burger, Robert Ebersohn, Andries Strauss, Ryno Benjamin, Naas Olivier, Sarel Pretorius, Kabamba Floors, Juan Smith (k), Frans Viljoen, Wilhelm Steenkamp, Martin Muller, WP Nel, Ryno Barnes, Coenie Oosthuizen. PLAASVERVANGERS: Skipper Badenhorst, Kobus Calldo, Waltie Vermeulen, Philip van der Walt, Ashley Johnson, Tewis de Bruyn, Sias Ebersohn, Corné Uys, Riaan Viljoen.
Skeidsregter: Pro Legoete.
Afskop: 19:00.