Kaplan gee Stormers raad oor breinkrag
2012-02-03 08:55
In-diepte Verslae
Die Brumbies-losskakel, Zack Holmes, se onsuksesvolle strafdoel in die laaste minuut het die Reds met 'n enkele punt in Canberra laat wen.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Kaapstad. – Gebruik die grys stof tussen jou ore en hou die gewig wat jy in die gimnasium kan opstoot eerder in die agterkop.
Dít was die boodskap wat een van Suid-Afrika én die wêreld se voorste skeidsregters, Jonathan Kaplan, vandeesweek in ’n besprekingsessie oor reëls aan die Stormers oorgedra het.
“Die Stormers is ’n baie ervare groep, maar dieselfde beginsel wat my geld, is ook op hulle van toepassing: Ongeag hoeveel ervaring jy het, móét jy aanhou groei,” het Kaplan gesê.
“Die oorgang van goed na besonder goed sal nie bepaal word deur hoeveel kilogram jy kan opstoot nie, maar deur goeie besluitneming op die veld.
“Jy wil nie ná die wedstryd wonder oor wat kon gewees het nie.
“Ek stry nie dat fisieke krag ’n groot rol in rugby speel nie, maar dis taktiek en besluitneming wat die wenner gaan bepaal.”
Daar is vandeesweek deur die Suid-Afrikaanse Rugbyunie benadruk dat daar met die aanvang van dié seisoen baie klem op die nakom van die reëls by die afbreekpunte en skrums gaan wees.
Die Stormers het nie vandeesweek onder Kaplan se toesig ’n skrumsessie gehou nie, maar daar is reguit en konstruktief oor reëls gesels.
“Dis my werk om hulle met inligting toe te rus en dié van hul afrigters om oor die toepassing te besluit,” het Kaplan gesê.
Craig Joubert dra die fluitjie in môre se opwarmwedstryd tussen die Stormers en Cheetahs, wat ’n blik sal bied op hoe goed hulle die reëls in die voorseisoen nakom.
Die spanne kan vir vroeë inslane by die skrums min genade verwag.
“Daar sal vinniger opgetree word teen ’n span wat vroeg inslaan. ’n Strafskop sal dadelik op ’n vryskop volg teen die span wat oortree. Daar is in die verlede baie meer speling toegelaat.”
“Soms deug ’n vryskop teen die span wat met die inslaan oortree net nie as straf nie. As jy ’n situasie het waar die pakke ewe sterk is, kan ’n span groot voordeel put as hy die inslaan wen.
“Dis ons verantwoordelikheid om toe te sien dat daar ’n regverdige stryd is,” het Kaplan gesê.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24